NewsNews

Beseerde onderwyser koester geen wrok teen boogskutter

“Ek het gelukkig vroeg in my lewe geleer om so gou as moontlik te vergewe as iets sleg met my gebeur”

Mnr, Louis van Rooyen, wat op 15 April deur ‘n boogskutter se pyl getref is. Foto: Stanley Coetsee

Retha Fitchat

SASOLBURG. – Agt weke nadat mnr. Louis van Rooyen (63) deur ‘n boogskutter se pyl in die buik getref is, is hy terug by die Vanderbijlparkse privaatskool waar hy onder andere vakadviseur in Tegnolgie is. Hy kan egter nog net halfdag werk en daar is nog geen sprake dat hy soos in die verlede by die afrigting van sport betrokke kan wees nie.

Hy kan nog net klein entjies op ‘n keer stap en word gou moeg, maar dit gaan elke dag ‘n bietjie beter, sê mnr. Van Rooyen.

Hy is op 15 April tydens sy hond se opleidingsklas op die sportterrein van die Laerskool Vaalpark deur die pyl getref toe ‘n boogskutter wat naby die skool woon, vermoedelik besig was om meer as 70 meter verder in sy erf te oefen.

Mnr. Van Rooyen, ‘n voormalige bedryfsingenieur, se dikderm is deurboor en ander organe is skrams getref voordat die pyl teen een van sy rugwerwels vasgesteek het. ‘n Operasie van etlike ure het gevolg en hy is ‘n week lank onder swaar verdowing in die Vaalpark-hospitaal behandel voordat hy weer tot verhaal gekom het.

“Ek kan nog net klein porsies eet en die kolostomiesakkie is steeds ‘n groot irritasie, maar ek het vrede met my omstandighede gemaak,” sê mnr. Van Rooyen, wat die afgelope sewe weke reeds 32 kg verloor het.

Hy koester geen wrok teen die persoon wat hom geskiet het nie, al gaan hy waarskynlik lewenslank nagevolge van die voorval oorhou. “Ek het gelukkig vroeg in my lewe geleer om so gou as moontlik te vergewe as iets sleg met my gebeur. Dit neem die lelik weg. Hoe kan ons van ons Verlosser verwag om ons te vergewe as ons nie ons medemens wil vergewe nie?”

Hy moet nou so goed as moontlik herstel voordat dokters oor ‘n paar maande sal kan bepaal of sy dikderm herstel kan word en hy sy lewe sonder ‘n “sakkie” sal kan voortsit.

* Nadat die polisie met die hulp van ‘n professionele boogjagter die trajek en afstand bepaal het vanwaar die pyl geskiet is, is ‘n inwoner van Vaalpark in verband met die voorval ondervra. Hoewel ‘n saak van poging tot moord geopen is, is die persoon nie gearresteer nie. Die lêer is tans by Sasolburg se hoofaanklaer, wat sal besluit of die vermeende boogskutter amptelik aangekla gaan word.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button