NewsNews

Wendorp van die Jaar vandag aangekondig

Die wenner van vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar kompetisie word vandag, 17 Junie, op Kwêla bekendgemaak. Parys is vanjaar aangewys as die Vrystaatse finalis vir die kompetisie en word daar styf duim vasgehou vir die dorp.

Daar is min dorpe wat so onder jou vel kom lê soos Parys – die Vrystaatse afdruk van sy Franse naamgenoot wat geensins afsteek as dit kom by die romantiek en unieke karakter van die dorp nie.

Sommer so met die inry in die dorp as jy op ’n Saterdag die talle motorfietse in die hoofstraat sien – of die vele voete met rugsak en tekkies wat die strate invaar om egte plattelandse hartlikheid te ervaar, verstaan jy hoekom stedelinge hier hart verloor.
Dit is die dorp se kunskarakter, sy oudhede skatte, winkeltjies soos krale ingeryg langs die hoofstraat, en prag natuurskoon langs die Vaalrivieroewer, waarmee die dorp sy besoekers met ope arms omhels.
Dis die glimlagte van sy mense, al geselsend op sypaadjies en die rustigheid van ’n volmaak geskepte natuur wat jou die Vredefort Koepel se natuurwonders te voet wil laat verken. Jou huisbier wil laat proe by ’n tuisbrouery, jou die Vaal se witwater wil laat roei, en op ’n  kabellyn oor Koepe-natuurskoon wil laat gly.
Dis hier waar jy wil lyn natmaak, en gaan lafenis soek by een van die dorp se unieke restaurante.
Ja, elke dorp het sy skaafplekke – té min water, té veel gate, ontoereikende munisipale dienste en wat meer – maar by dit als het Parys karakter en die mooi wat mense raaksien wanneer hulle naweek vir naweek na die Vrystaatse “Paris”stroom.
Dis hierdie mooi wat raakgesien is toe daar gestem is vir Parys as een van die finaliste in vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie, aangebied in samewerking met Afrikaans.com, KIA en National Accommodation Association of South Africa (NAA SA). En vandag hoor die land wie die wenner is van vanjaar se kompetisie.
Die wendorp kry ’n ongelooflike R1-miljoen se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ’n 45-sekonde advertensie oor die dorp vervaardig wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word. Daar sal ook ’n groot KIA-dorp-van-die-jaar-makietie in die wendorp gehou word.

Related Articles

Back to top button