Bankrotbos: Boere gevra om besmetting aan te meld
Hy’s ’n indringer soos min en tans een van die belangrikste probleemplante in Suid-Afrika. Maar waarom bankrotbos (ook genoem slangbos of vaalbos) so ’n geweldige ontploffing in veral die afgelope vyf jaar gehad het, ook in die Vredefort en Viljoenskroon-omgewings, bly ’n raaisel.

Land Care Vaal Eden/Vredefort Dome begin reeds in September vanjaar ’n program waarmee op 886 ha gewerk sal word om 140 ha se bankrotbos op die plase Tarentaalkop, Zuid Witbank en Spitzkop, Vredefort, uit te kap.
‘n Soortgelyk projek sal ook in September op die plase Geluk, Bankfontein, Granietbank, Rooipoort, Vlakfontein en Wolwehoek gedoen word. Albei projekte duur van September vanjaar tot Maart 2019.
‘n Totaal van R415 000 is deur Land Care fondse vir die projek vir die 2018/19 finansiële jaar begroot, en sal werksgeleenthede aan 48 mense bied.
Goeie nuus is dat nog R,14m nou ook vir die projek aan Vaal Oewer-kant begroot is vir die 2019/20 finansiële jaar, en dat die projek jaarliks voortgesit sal word. So is verlede Donderdag gehoor by ‘n Land Care vergadering by Vintage Yard.
Maar grondeienaars sal moet help met ‘n opname van hoeveel hektaar bankrotbos-besmetting hulle het en wat boere se behoeftes is vir onkruiddoder vir die bestryding daarvan. So ‘n opname is nodig om toegang te kry tot fondse vir projekte waar boere dan, addisioneel tot die kapprojekte, self met eie arbeid met onkruiddoder kan begin om bankrotbos op hul grond uit te roei.
Grondeienaars kan ‘n afspraak met Schalk Burger by Departement Landbou se kantore agter Jacks Paint in Loopstraat maak sodat probleemgebiede op ‘n kaart aangedui, en Land Care deur Departement Landbou vir fondse vir onkruiddoder kan aansoek doen. Insekdoder sal proporsioneel per hektaar onder aansoekers versprei word.
Daar is weer daarop gewys dat dit elke grondeienaar se eie verantwoordelikheid is om indringerplante uit te roei, en dat departement landbou ondersteuning sal gee waar grondeienaars hul samewerking gee.
Bankrotbos hou ’n groot bedreiging in vir weiding en kan die produksiepotensiaal van weiveld met tot 75% verlaag. Met oorbeweiding is die verskyning van bankrotbos meer opsigtelik, maar in werklikheid dra oorbeweiding net by tot die indringing omdat die grasbedekking verminder en bankrotbos wat nie benut word nie, dan die kans kry om ongehinderd te groei. Ou lande is veral vatbaar as gevolg van die gebrek aan kompetisie van grasspesies.
Bankrotbos kompeteer sterk vir plantvoedingstowwe en grondwater en het allelopatiese eienskappe wat giftige stowwe afskei om die ontwikkeling en ontkieming van plante in hul onmiddellike omgewing te inhibeer.
So kan grasse heeltemal verdring word deur bankrotbos. Boonop bevat dit vlugtige olies wat hoogs vlambaar is en saam met hoë brandbare materiaal ‘n ernstige gevaar inhou by veldbrande veral nou in die wintermaande.
Aangesien daar heelwat besmettings voorkom wat nie tydens die oorhoofse opname van Julie 2017 geïdentifiseer is nie, benodig GreenThorn meer inligting oor die voorkoms van besmettings en moet oewereienaars dit so gou as moontlik aan Schalk rapporteer.
Daar word ook beplan om weer ’n gemeenskapskomitee te stig om alle partye wat ‘n belang het by die rivier, op ’n gereelde basis in te lig oor die planne en vordering van wateronkruidbeheeraksies soos hierdie. Almal wat belangstel kan met Schalk kontak maak.




