NewsNews

Peanut: die hond wat ‘n koma-gevaar kan keer

VANDERBIJLPARK. – ‘n Hond word nie verniet die mens se beste vriend genoem nie, en in die Allen-gesin se geval is dit presies so.

Peanut, ‘n bruin miniatuur poedel, is  opgelei om diabetes te ruik. Die verskil wat hy in die Allen-gesin se lewe maak, kan nie beskryf word nie.
Gabi (6) het Peanut gekry toe hy maar net sewe weke oud was. Van kleintyd is hy opgelei en sodoende kan hy Gabi, wat voor haar derde verjaardag met Tipe 1-diabetes gediagnoseer is, nou waarsku wanneer haar bloedsuikervlakke te laag of te hoog is.
Normale suikervlakke is tussen 4 en 8. Wanneer jou bloedsuiker onder 4 is bestaan die moontlikheid dat jy in ‘n koma kan gaan.
“Wat interessant, maar ook skrikwekkend is, is dat jou bloedsuiker die een dag onder twee kan wees sonder dat jy dit weet, en die volgende dag kan jy in ‘n koma wees. Baie kinders met Tipe 1-diabetes gaan dood in hul slaap as gevolg van bloedsuikervlakke wat te laag daal,” sê Amanda Allen, Gabi se ma.
Hoë bloedsuikervlakke kan weer onder meer jou senuweestelsel beskadig, oogprobleme veroorsaak en nierversaking tot gevolg hê.
“Ons as ouers het na verskeie opsies begin kyk om seker te maak ons dogtertjie kan gesond grootword,” sê Amanda.
Dit is toe dat Peanut deel geword het van die Allen-gesin. Hy is nie net ‘n hond nie, maar ook ‘n maat vir Gabi. Wat intelligensie onder honde betref, is poedels tweede op die lys en boonop hou hulle daarvan om mense tevrede te stel.
Peanut is opgelei om Gabi te waarsku wanneer haar bloedsuiker te laag, onder vier, daal of te hoog, bo nege, styg.
Hy waarsku haar deur in ‘n sirkel te draai en dikwels ook eers te blaf sodat hy almal se aandag het.
“Wanneer hy so in die rondte draai en sy gaan toets haar suikervlakke, is hy 90% van die tyd reg. Dan kry hy ‘n lekker bederfie,” sê Amanda.
“Natuurlik is Peanut nie elke keer reg nie, natuurlik is daar ook kere wat hy speel of slaap en dit dalk mis, maar hy is net ‘n hondjie wat ons baie liefhet en ‘n baie belangrike rol in ons lewe speel.”
Peanut was nooit die einddoel nie, maar eerder die begin om nog baie ander honde op te lei om dienshonde te wees. Na Peanut suksesvol opgelei is, is die niewinsgewende organisasie, PawPanion Service Dogs geregistreer.
Tans is daar ‘n swart labrador, Aron, in opleiding wat uitgeplaas sal word na ‘n familie wanneer hy 18 maande oud is. Die doel van die organisasie is om mense teen ‘n minimale koste te help wat dienshonde benodig.
James Herriot het gesê: “As om ‘n siel te hê beteken om liefde, lojaliteit en dankbaarheid te voel, is diere beter as party mense daaraan toe!”
Vir meer inligting oor Peanut gaan gerus na sy Facebookblad: Peanut, the Diabetic Alert Dog.

Peanut en Gabi.

Related Articles

Back to top button