NewsNews

Distemper: Beskerm jou hond teen dié dodelike siekte

Wat weet jy van Distemper?

 

Dr. Stallone Teterra, ’n veearts by Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS), sê dat die virus verantwoordelik vir Distemper onder honde geen klassieke behandeling of genesing het nie en daarom is daar niks wat vir honde met Distemper gedoen kan word nie.

Die virus het wel verskillende stamme en die soort stam waarmee die hond besmet is, sal bepaal of die hond sal oorleef of nie. ’n Hond met Distemper se oorlewing hang ook af van die ouderdom en immuunstelsel van die hond. Babahondjies en ouer honde met ’n swak immuunstelsel is veral vatbaar vir die virus.

Terrera sê dat dit baie belangrik is vir eienaars om hul honde te laat inent, aangesien dit kan keer dat die hond siek word van die virus. Honde wat hul inentings gekry het, se kanse van oorlewing is ook beter as die wat geen inentings in hul lewens gehad het nie.

“Behandeling kan die simptome en intensiteit daarvan verminder met die hoop dat die hond se immuunstelsel die infeksie sal beveg en dat die hond dan sal herstel,” sê Terrera.

Hy sê dat dit nie die medisyne is wat die virus doodmaak nie, maar die hond se immuunstelsel self. Die medisyne help net om die hond se immuunstelsel te versterk en om die simptome te verlig.

“Honde wat wel herstel, kan later in hul lewens aan ander sentrale senuweestelselversteurings soos chorea (aanhoudende senuwee spiertrekke), ly.

Distemper word deur middel van hoes of nies oorgedra en is hoogs aansteeklik. Dit word ook oorgedra deur direkte kontak met ontlasting, urine of speeksel.

“Dit kan ook indirek oorgedra word deur kos- en waterbakke te deel,” sê Terrera.

Die virus kan wel doodgemaak word deur die omgewing waarin die hond woon, met algemene huishoudelike skoonmaakmiddels te ontsmet, maar as die hond eers besmet is, gaan dit nie ’n verskil maak nie. Volgens Terrera is Distemper ’n multisistemiese siekte en tas dit meer as een stelsel in die liggaam aan. Dit sluit in respiratories, urogenitaal, gastro-intestinaal sowel as die senuweestelsel.

Tekens wat na vore kom wanneer van die stelsels in die liggaam besmet is sluit in koors, ’n waterige neusafskeiding, ’n slymerige neus- en oogafskeiding, aanhoudende nies en hoes, ’n gebrek aan eetlus, braking en diarree.

By meer ernstige gevalle is stuiptrekkings en neurologiese afwykings ook tekens. Terrera sê dat wanneer ’n hond begin om enige van die simptome te wys, eienaars dadelik hul hond na ’n veearts moet neem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button