NewsNews

Hof skep verwarring oor vuurwapens

Die VF Plus het vandeesweek gesê hy is teleurgesteld in die uitspraak van die Grondwethof oor die hernuwing van vuurwapenlisensies aangesien dit groot verwarring skep vir vuurwapeneienaars.

 

 

 

Die VF Plus is van mening dat die hof nie net moes beslis oor die geldigheid van artikels 24 en 28 van die Vuurwapenbeheerwet nie, maar ook prosedures moes neerlê om die chaos by die sentrale vuurwapenregister te oorkom.

 

Die hof moes in belang van vuurwapeneienaars die polisie aangespreek het oor die chaos by die sentrale vuurwapenregister.

 

ʼn Hofuitspraak van 2009 het bepaal dat geldige vuurwapenlisensies ingevolge die ou wet geldig sal bly totdat ʼn hofaansoek van SA Jagters oor die aangeleentheid afgehandel is. Die hofaansoek is nooit gefinaliseer nie aangesien die polisie nie daarop gereageer het nie. Dit dra by tot die verwarring, sê die party.

 

“Om ‘n persoon sy vuurwapen te laat verbeur bloot omdat hy laat aansoek gedoen het vir die hernuwing van sy lisensie is onbillik en ontneem die persoon van sy eiendomsreg. Hierdie beginsel behoort getoets te word aangesien ʼn persoon se motor nie verbeur verklaar word aan die staat indien die eienaar nie betyds sy lisensie hernu nie.”

 

Die party sê die uitspraak skep die indruk dat daar teen vuurwapeneienaars gediskrimineer word en dat hulle ontwapen word bloot weens ʼn administratiewe of menslike fout. “Die hoë voorkoms van geweldsmisdade soos roof, kapings en roof by woonhuise in Suid-Afrika, laat die  publiek geen keuse as om hulself te bewapen vir beskerming nie.”

 

Vrae wat oor die onsekerheid ontstaan, is of die ou lisensies steeds geldig is, of mense in hegtenis geneem sal word as hulle hul vuurwapens gaan inhandig, en watter waarborg mense het dat hul vuurwapens in besit van die polisie nie gesteel en in misdaad gebruik gaan word nie.

 

In ‘n verklaring word gesê die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, sal die aangeleentheid laat bespreek by die parlementêre portefeuljekomitee van polisie om ʼn uitweg te vind om die proses behoorlik te bestuur.

 

 

Related Articles

Back to top button