NewsNews

‘Ons is seer en stukkend’ – sê Ma Jenny na verpletterende nuus

Die Schreüder-gesin van Sasolburg het gisteraand verdere verpletterende nuus oor hul seun en broer, Wayne (33), se toestand gekry. Dokters het hulle meegedeel dat Wayne se bloedsiekte stelselmatig sy hele liggaam gaan aantas, nadat hy reeds albei sy bene verloor het.

 Wayne het besluit om geen verdere operasies te ondergaan nie en liewer saam met sy ouers na Sasolburg terug te keer waar hy hom in die bekendheid van sy eie huis en familiekring kan voorberei op ‘n Nuwe Lewe in die Hemel, waar hy vry van alle pyn, vrees en hartseer gaan wees….

 

Lees sy Ma Jenny se hartroerende brief hier onder, wat sy gisteraand geskryf het. Lees ook heel onder ‘n agtergrondberig oor Wayne, wat in verlede week se Vaalweekblad verskyn het.

Wayne se een spesialis het my gisteraand gekontak na sy vyfde operasie in agtien dae om ons te vra om vandag in Bloemfontein te wees sodat hul met ons en Wayne kan praat.. Ons het met swaar harte nader aan Bloemfontein gekom vandag want ons het nie geweet wat vir ons wag nie.. Dr Malan was heeldag in teater en eers na haar lys klaar was het sy en dr Pierce met eers Wayne, toe ons, en toe met ons al drie gepraat en die volgende.. Hulle was verplig om gedurende gisteraand se operasie Wayne se hele linker boudspier te verwyder omdat dit reeds dood was, net soos sy been spiere omdat dit nie bloed gekry het nie.. Sy spiere in die linker stump gaan volgende doodgaan en hul sal sy hele stump asook heup moet verwyder indien hul sy lewe wou red.. Dit sou beteken dat hul vir hom ‘n stoma sakkie sou moes insit waarmee hy die res van sy lewe sou moes leef asook ‘ n kateter.. Daarna sou alles aan die regterkant herhaal het vanaf sy boudspier, spiere na sy stump en dit sou ook alles verwyder moes word.. Wayne sou ‘n halwe bedlèende mens word wat altyd van iemand afhanklik sou wees.. Die drs het vir hom gese hy is nog helder van verstand en ‘n denkende mens en hulle sal sy keuse wat vorentoe met hom gebeur respekteer en dit beteken die keuse is syne.. Hy het dadelik vir hul gesè geen operasies meer nie .. “Hierdie siekte het albei my bene gevat asook my linker boud, nou sè ek genoeg is genoeg – geen operasies meer nie.. Los my nou net dat ek kan gaan met dit wat nog myne is”.. Wayne, sy pa en ek het baie gehuil en hy het vir ons gesè hy wil nie nog pyn van operasies deurleef nie.. Ons verstaan sy keuse en respekteer hom daarvoor maar dit maak nie die seer kleiner of minder pynlik nie.. Ons het gepraat oor wat volgende en sy besluit was die volgende – “Ek wil huis toe gaan en tussen familie en vriende my laaste dae deurbring”.. Die drs is teruggeroep en sy besluit is aan hul oorgedra.. Alles word more oggend in werking gesit om vir hom genoeg pynpille, morfien en dressings vir sy wonde te gee sodat ons hom more huis toe kan vat.. Dit is ons kind se wens om by die huis tussen bekende mense en dinge sy laaste tyd te spandeer wat hy op hierdie aarde gegee is.. Vir die mense wat nog vir hom bid sè hy dankie want hy gaan dit nodig kry vir sy laaste tydjie hier op aarde want hy gaan Hemel toe na die HERE toe waar hy weer twee bene sal hè en geen pyn nie.. Ons as sy ouers en gesin sal alles in ons vermoë doen om sy laaste tyd so maklik en gerieflik as moontlik te maak.. Ons is vannaand in duisend stukkies maar sal dit vinnig deur hierdie donker nag weer moet bymekaarkry om sterk te wees vir hom..Bid asb dat ons kind se oorgang na vrede so pynloos moontlik sal gebeur sonder dat hy nog meer pyn en lyding moet hè.. Bid vir ons om regop te bly want ‘n kind begrawe sy ouers, nie ‘n ouer sy kind nie.

 

Eerste berig in Vaalweekblad van 30 Mei:
Oud-sportman verloor albei bene
Retha Fitchat

SASOLBURG. – ‘n Paar jaar gelede het Wayne Schreüder (33) nog gereeld rugby, tennis en krieket gespeel en mededingend geswem. Dit was totdat hy nege maande gelede sy regterbeen weens ‘n seldsame mediese toestand verloor het.

Verlede week moes Wayne se linkerbeen ook in ‘n noodoperasie in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein geamputeer word.

Volgens sy ma, mev. Jenny Schreüder van Sasolburg, was Wayne en sy gesin die eerste keer daarop voorbereid dat een van sy bene afgesit moes word. Hulle het dit egter glad nie verwag dat hy verlede week ook sy ander been sou verloor nie.

Wayne ly aan ‘n seldsame siekte wat veroorsaak dat sy bloed klonte vorm en die bloedtoevoer na veral sy bene, belemmer is. Sy liggaam reageer glad nie op die medikasie nie, met gevolg dat die spiere en weefsel van sy bene begin afsterf het weens gebrek aan suurstof. Sy regterbeen is in Augustus verlede jaar in die Universitas-hospitaal geamputeer.

Die amputasie van sy linkerbeen het op 17 Mei vanjaar tydens ‘n noodoperasie gevolg. Wayne is steeds in die hospitaal en sal moontlik teen die einde van die week na Sasolburg kan terugkeer.

“Ons gesin is nog op ‘n baie moeilike plek. As ouers voel my man Johan en ek so magteloos. Ons wil ons kind baie graag help maar daar is so min wat ons kan doen,” sê Jenny.

Wayne, wat die afgelope maande geleer het om met net een been oor die weg te kom, sal nou van vooraf moet aanpas by ‘n rolstoel, of sal met twee kunsbene moet leer loop.

Dié oud-leerling van Laerskool Leeuw-spruit en die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg het as kind reeds in rugby uitgeblink en op skool aan wedstryde in Australië deelgeneem. Hy het mettertyd ook flank of senter vir die Valke-Suid sowel as vir VUT se eerste en tweede rugbyspanne gespeel.

Hy was ‘n werknemer van Sigma-myn in Sasolburg maar kan weens sy siekte nie meer werk nie. Hy het middel verlede jaar kwaai hoofpyne en ondraaglike pyn in sy bene begin kry. Aanvanklik is vermoed dat ‘n rugwerwel ‘n senuwee vasknyp, totdat dokters vasgestel het dat hy aan die ongewone toestand ly wat sy bloed laat klont.

Die amputasie van albei Wayne se bene is nie die enigste mediese terugslag wat die Schreüder-gesin die afgelope tyd getref het nie. Jenny het verlede jaar ‘n beroerte gehad, wat haar geheue en spraak effens aangetas het. Wayne se pa, Johan, wat hartprobleme het, is ook vroeër die maand met aggressiewe pro-staatkanker gediagnoseer.

Behulpsame inwoners van die Vaaldriehoek het reeds onderneem om die gesin se huis in Sasolburg te help rolstoelvriendelik maak vir Wayne, en om die badkamer te verander sodat hy makliker toegang sal hê.

“Ons is oorweldig deur die goedgesindheid van so baie mense wat vir ons bid. Toe ek Wayne van al die boodskappe van bemoediging op Facebook vertel, het hy dadelik trane in sy oë gekry,” sê Jenny.

Hulle sal baie dankbaar wees as iemand ‘n platskerm TV kan skenk wat aan Wayne se muur gemonteer kan word. ‘n Verstelbare mediese bed en ‘n dakwaaier met afstandbeheer sal ook opreg waardeer word.

Enigiemand wat graag hulp of ‘n donasie wil aanbied, kan Jenny kontak by 082 877 4500 of skenkings inbetaal in die rekening van:

Mnr. JH Schreüder. Nedbank Tjekrekening 1764330579, Sasolburg, Takkode: 17643650.

* Volg Wayne se vordering op die Facebookblad: Bid vir Wayne Schreuder / pray for Wayne Schreuder.

Wayne Schreüder (links), een van vier broers, voor sy amputasies saam met sy broers en ouers: Ryno, Ma Jenny, Pa Johan, Colin en Shaun.

 

 

Related Articles

Back to top button