NewsNews

Kyk – dit gebeur nie net in die Vaalrivier nie!

Riool vloei verby huise in Mooirivier in

 


Dit is duidelik die reuk van riool. Rou riool is besig om uit ten minste twee verstopte mangate in Uitbreiding 9 van Ikageng te stroom.
Volgens ’n betroubare bron eindig dié riool uiteindelik in die Mooirivier. Voor dit die Mooirivier besoedel, loop dit verby verskeie mense se huise in Uitbreiding 9.
Dié uitbreiding is al in 2016 langs die N12 gestig. Alhoewel daar nou al lopende water is, is daar steeds nie elektrisiteit by die nedersetting nie. Riool uit een van die verstopte mangate vloei in wat veronderstel is om ’n stormwatersloot te wees. Dié sloot loop reg langs mense se huise verby.


“Daar is drie mangate wat gereeld verstop is. Die spesifieke een is al twee weke verstop. Ons rapporteer dit, maar niemand het uitgekom om dit reg te maak nie,” vertel van die inwoners.
Volgens die inwoners is dit nie aanvaarbaar nie omdat hulle kinders nou aan dié gesondheidsrisiko blootgestel word. Die situasie by die tweede verstopte mangat is heelwat erger. Met die Herald se besoek het dit geblyk dat dié mangat al heelwat langer as twee weke verstop is. Die ontlasting is duidelik te sien soos wat die riool na die kanaal vloei wat uiteindelik in die Mooirivier beland. Daar is ook ’n sokkerveld naby, waar baie kinders in die dag besig is.
Volgens Johan Zerwick, wyksraadslid van Wyk 4 waarvan Uitbreiding 9 deel is, word die probleme deurlopend aan die munisipaliteit gerapporteer.


“As daar nie binnekort iets aan die situasie gedoen word nie, sal dit ons noop om die Menseregtekommissie te nader,” het hy gesê.
* Die Herald het by die munisipaliteit navraag gedoen, maar teen druktyd was daar geen reaksie van hul kant nie.

 

Related Articles

Back to top button