NewsNews

Neem verantwoordelikheid vir jou veiligheid, sê skrywer van veiligheidsgids

“Wanneer ek hoor iemand is in sy bed deur aanvallers verras, kan ek nie help om te vra waar was die mens se vroeë waarskuwingstelsels en veiligheidsisteme nie.”

So sê Gerhard van Jaarsveld van Waaksaam/Alert SA.
Van Jaarsveld, wat in Parys woon, sê misdaad in ons land het reeds die vlak van oorlog bereik en dat ons in die “doodsakker” is. Net op plase is daar sedert die begin van vanjaar al 15 moorde gepleeg. Hy sê die wrede moord op ’n vriend van hom se ouers asook ’n gewapende roof by sy eie ouers het hom betrokke gemaak by die stryd teen misdaad.
Ons moet vir ons eie veiligheid verantwoordelikheid aanvaar, sê Van Jaarsveld.
Na jarelange navorsing oor misdaad het hy ’n gids saamgestel: Waaksaam/Alert SA, Praktiese Veiligheid en Basiese Sekuriteit, HANDLEIDING, Volume 1, Misdaad in Suid-Afrika, Algemene Oorsig en Misdaadvoorkoming.
Dit is ’n omvattende gids oor misdaadtendense en -statistieke en sluit ook die kennis in van talle gesaghebbendes op die terrein. Dit is ook in Engels beskikbaar, sê hy.
Talle verwysings na webblaaie en koerantartikels met letterlik honderde praktiese wenke maak dit ’n baie bruikbare gids om misdaad in Suid-Afrika te verstaan, te bekamp en te oorleef.
Van Jaarsveld leef, eet en slaap misdaad en is by talle groepe soos WhatsApp, Telegram, Zello en Facebook betrokke. Sommige van die groepe bied slegs inligting oor die nuutste misdaadneigings, maar ander groepe is toegespits daarop om mense wat aangeval word, onmiddellik te ondersteun deur hulp te ontbied, sê hy. Emergency Security Response Unit & Farm Watch (EESRUF-Ems) is ’n netwerk waarby heelwat groepe inskakel om sodoende landwyd so vinnig moontlik inligting te versprei en mense by te staan.
“Ons werk met almal saam en die jaloesie en wedywering tussen groepe is snert,” sê hy.
Van Jaarsveld bied ook selfverdedigings- en skietkursusse aan, maar sê ’n mens se si- tuasie gaan jou optrede tydens ’n misdaadvoorval bepaal. Dit is beter om weg te kom uit ’n situasie of dit heeltemal te vermy as jy kan. Om misdaad geheel en al te vermy, moet ’n mens bewus wees van wat om jou aangaan, paraat en waaksaam wees en vroegtydige waarskuwingstelsels hê.
Misdaadvoorkoming is een van die belangrikste aspekte wat breedvoerig in die gids behandel word. Na alles bly klein hondjies in die huis nog steeds een van die beste maniere om betyds bewus te word van ’n moontlike bedreiging, sê hy.
’n Mens moet begin verstaan dat jou veiligheid in jou hande is. Teen die tyd wat die polisie by jou opdaag was jy reeds aangeval. Die polisie en jou sekuriteitsmaatskappy tree re-aktief op. ’n Mens moet pro-aktief optree om die trauma van misdaad te vermy, sê hy.
“As ’n vrou byvoorbeeld ’n groep mans sien wat verdag lyk, moet sy op haar instink vertrou en die situasie geheel en al vermy.”
Misdaad is een van die grootste ekonomiese sektore in die land en dit gaan nie gou verander nie. Teen die tyd wat jou goed gesteel word, is daar reeds ’n mark daarvoor.
Misdadigers tree met militêre presisie op en is uiters goed opgelei en professioneel. Mense moet ophou om misdadigers te onderskat. Van Jaarsveld beveel aan dat mense op plaaslike vlak betrokke moet raak en saam netwerke in hul gemeenskappe vorm.
Mense  kan hom kontak by 081- 333-4540, of sy Facebookblad Waaksaam/Alert SA besoek

 

Related Articles

Back to top button