NewsNews

Pasop! Dié toestel kan jou hartsgeheime verklap!

Die lewe sou soveel anders wees as almal mekaar se gedagtes kon lees….. maar Bertie doen dit wel met sy poligraaftoestel!

VANDERBIJLPARK. – Die lewe sou soveel anders wees as almal mekaar se gedagtes kon lees. Niemand sou verskuilde agendas kon hê nie. Niemand sou oorloë kon beplan of vir iemand anders ‘n valstrik kon stel nie. Niemand sou kon wegkom met ‘n leuen nie en niemand sou ‘n misdaad kon pleeg sonder dat almal geweet het wie die skuldige is nie.

Ongelukkig (of dalk gelukkig) kan ons mekaar se gedagtes nie lees nie, maar Bertie Rautenbach, ‘n internasionaal geakkrediteerde forensiese psigo-fisiologiese poligrafis van die Vaaldriehoek, kom redelik naby daaraan om uit te vind wat jy dink!

In sy dae as adjudant-offisier in die polisie se speurafdeling was hy reeds geboei deur die vraag oor hoe ‘n ondersoekbeampte bo redelike twyfel kan bepaal of die verdagte wat voor jou sit en ondervra moet word, skuldig of onskuldig is.

As ‘n gerespekteerde poligrafis wat intussen opgelei is in die gebruik van die sogenaamde “leuenverklikkertoetse”, het hy sedert 2013 reeds meer as 3 500 poligraaftoetse in Suid-Afrika en verskeie ander dele van die wêreld gedoen, insluitend in Liberië, Ghana en Botswana.

In sy privaatpraktyk kom sy jarelange kennis oor misdadigers se optrede handig te pas, maar nou benut hy bykomende tegniese hulpmiddels om vas te stel wanneer ‘n verdagte openlik en eerlik is, of iets probeer wegsteek.

Rautenbach, wat ‘n lid van verskeie plaaslike en internasionale poligraaf-assosiasies in Amerika en Europa is, verduidelik dat ‘n poligraaf ‘n instrument is wat ‘n mens se biologiese reaksie aanteken en uitwys wanneer ‘n persoon vermoedelik ‘n leuen vertel. Die metode is gebaseer op wetenskaplike navorsing wat oor die afgelope 100 jaar gedoen is en inkorporeer verskillende dissiplines soos die menslike anatomie, fisiologie en psigo-fisiologie.

Met korporatiewe misdaad en oneerlikheid in die werksplek wat die afgelope jare die hoogte ingeskiet het, is daar deesdae ‘n ongekende aanvraag na poligraaftoetse, sê Rautenbach. Dié toetse word egter nie net gebruik om bedrog, diefstal of sindikaatverwante misdaad of onaanvaarbare gedrag soos alkohol- of dwelmmisbruik uit te wys nie, maar word ook met groot sukses gebruik om byvoorbeeld die ideale werknemers vir poste waar absolute eerlikheid van uiterste belang is, te identifiseer.

Poligraaftoetse is ‘n relatief nuwe konsep in Suid-Afrika en daar is nog min wetgewing wat die gebruik daarvan beheer. In dié stadium word die publiek wel deur die land se grondwet beskerm deurdat niemand gedwing mag word om sonder sy of haar toestemming aan ‘n poligraaftoets onderwerp te word nie. Toestemming moet vrywillig wees en moet skriftelik deur die toetsaflegger verleen word sonder enige intimidasie, diskriminasie of dreigemente. Volgens Rautenbach hang die betroubaarheid van ‘n poligraaftoets af van die tipe toets en tegniek wat die poligrafis gebruik. As die deeglik gedoen word sodat die toetsaflegger se psigologiese samestelling vooraf korrek bepaal word, is die toets 100% akkuraat, sê hy.

Hoewel poligraaftoetse se uitslae deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie in werksdispute aanvaar word, word dit nog nie outomaties deur ons land se howe aanvaar nie.

Landdroste mag wel self bepaal in watter mate die uitslae in ‘n spesifieke saak toegelaat kan word.

“Die uitslae van poligraaftoetse moenie in isolasie gebruik word om iemand se skuld of onskuld te probeer bepaal nie. Dit moet deel vorm van verskeie ondersoekmetodes, hoewel dit besonder waardevol is om onskuldige mense vroeg reeds uit te skakel en die fokus van ‘n ondersoek te verskerp,” sê Rautenbach. Kinders kan ook poligraaftoetse ondergaan mits die ouers toestemming gee. Rautenbach verkies egter om nie kinders van jonger as 14 jaar by die toetse te betrek nie.

Poligraaftoetse word natuurlik nie net in die werksomgewing gebruik nie maar ook in persoonlike verhoudingsgeskille. Dit lei ongetwyfeld tot interessante en soms komiese ervarings. In een geval, vertel Rautenbach, moes hy bepaal of ‘n vooraanstaande persoon ontrou in sy huwelik was. Die uitslae was nie in die oortreder se guns nie, en Rautenbach is toe omkoopgeld aangebied om die uitslae te “kook”.

“Ongelukkig vir die persoon werk dinge toe nie so nie,” sê Rautenbach beslis.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button