Photo GalleriesSport

Kaptein van ‘n wenspan

Om te kan spog met jou Protea-kleure toegeken deur SAEF en SASCOC is een ding, maar om boonop kaptein van ’n wenspan te wees, wil gedoen wees.

Dié eer het Parysenaar, Minette Nortman, te beurt geval toe sy onlangs kaptein vir die Erasa 120km standaardgewig-span was by vanjaar se SA International Challenge.
Met ’n rekordgetal inskrywings vir die twee dae lange uithourit, het deelnemers aan die 120km in bykans bosveld-omgewing met baie los klippe op die pad, van 05:30 die oggend elke 20 minute weggespring in die onderskeie gewigsklas-groepe.
Die Standaardgewig-klas waarin Minette gery het, het by verre die meeste inskrywings gehad met meer as 80 ruiters wat almal gelyk weggespring het. Dit is  hier waar ruiter en perd al hul storie moet ken, vertel Minette, want om die perde se opgewondenheid te beheer in die beperkte spasie waarin weggespring moet word, verg vernuf.
Alle deelnemers moes vooraf aan sekere minimum vereistes voldoen voordat vir ‘n 120km of 160km rit ingeskryf kon word. Die SA groep van 5 per afdelng is ook op baie streng kriteria gekies, en was dié eer Minette beskore.
Vir Minette was die grootste beloning egter toe haar span die internasionale kompetisie kon wen. Van haar span was sy die eerste SA ruiter wat klaar gemaak het, maar algeheel 5de in die Standaardgewig groep. In ag genome dat dit die enigste perd is wat aan afgelope 4 groot SA kompetisies deelgeneem het – (2x 200m Fauresmith rit en 2x 120km SA International Challenge) waar telkens top 5 posisies behaal is, is dit n baie groot prestasie vir die perd. Des te meer waar die uitvalsyfer meer as 50% is.
Die terrein waar gery is, was baie bedrieglik en alles behalwe ’n plat, vinnige baan.  Daar was geleidelike lang op- en af hellings met ’n totale totale klim van 1000m.
Minette vertel dat die rit baie beplanning vereis het met opdraandes wat stadiger gevat moes word om die perde se energie te spaar, terwyl daar eerder gedraf moes word op die afdraande sodat daar nie té veel impak op die perde se bene, gewrigte en hoewe sou wees nie.
Sy beskou ervaring en ruiterkuns as van die belangrikste elemente van só ’n  uithourit sodat die perd makliker oor die klipperige terrein beweeg en impak minder is om die risiko van kruppelheid van die perd te verminder.
Die rit het bestaan uit  2 x 40km’s en 2x 20km’s.  Groot dele is dan ook op die toegangspaaie tussen  groot wildskampe gery waar die pad  hard en klipperig was.
Daar was wel op sekere plekke nuwe kortafstand paaie langs die oorspronlike pad geskraap wat sagter en minder klipperig was en gehelp het om die perde te spaar. Dele wat binne in die wildskamp gery is en meer met gras bedek was, het ook die pad sagter gemaak op daardie gedeeltes.
Uitdagings was daar baie – van harde klip pad tot baie draaie tussen die kampe wat dit moeilik maak vir ‘n perd om ritme te kry en te behou. Dan weer gladder gras oppervlaktes.
Vir elke ruiter wat ge-elimineer word by ’n  veeartspunts bly dit ‘n teleurstelling veral ná soveel hard werk, sê Minette. “Maar die sport leer jou regtig om uit te hou – want jy gaan weer moet opstaan, weer hard werk en weer probeer.” Verseker ’n  sport wat jou nederig hou!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button