NewsNews

Ernstige ingryping op Bult kom

’n Nuwe maatskappy sonder winsoogmerk beoog om teen 1 Januarie 2019 verantwoordelik te wees vir al die veiligheid en sekuriteit, skoonmaakdienste, instandhouding en verfraaiing van die Bult area.

’n Nuwe maatskappy sonder winsoogmerk beoog om teen 1 Januarie 2019 verantwoordelik te wees vir al die veiligheid en sekuriteit, skoonmaakdienste, instandhouding en verfraaiing van die Bult area.
Volgens ’n gesamentlike verklaring van die NWU en die JB Marks munisipaliteit is ’n ooreenkoms met die oog op stadsverbetering in die Bult-area tussen dié twee partye gesluit.
Hiervolgens gaan die NWU en die munisipaliteit die ‘Cachet Stadsverbeteringsdistrik Maatskappy Sonder Winsoogmerk’ SVD MSW so gou moontlik stig.

Dié MSW sal dan verantwoordelik wees vir die lewering van aanvullende dienste in ‘n afgebakende Bult-area.
Die beoogde aanvullende dienste is al die dienste van straatvlak af opwaarts, soos veiligheid en sekuriteit, skoonmaakdienste, instandhouding en verfraaiing – terwyl die munisipaliteit steeds vir die infrastruktuur, water- en elektrisiteitsvoorsiening, riolering en vullisverwydering verantwoordelik sal wees.

Die presiese area moet nog gefinaliseer word, maar die grense sal waarskynlik wees: Chief Albert Luthuli-rylaan, die Ventersdorp-pad, Hennie Binglestraat, MC Roode-rylaan tot by die Carletonville-pad en Potchefstroom-dam.
Die uitrol van die aanvullende dienste sal egter eers rondom die sentrale sakekern van die Bult, Cachetpark en omliggende hoëdigtheidsareas gesentreer wees. “Dit sal so gou doenlik ook uitgebrei word na die skole, hospitale, kerkkomplekse, en uiteindelik die hele area,” lui die verklaring. Die maatskappy sal ook die draer van die regte wees van die voorgestelde ooreenkoms ten opsigte van die Cachetpark Groen Area.
Dit behels die moontlike omheining van die park, sigbare polisiëring en sekuriteitsdienste in die vorm van bykomende infrastruktuur en die ontplooiing van personeel by Cachetpark.
Mnr. Frans Kruger (voor sy aftrede verbonde aan die NWU se Regskantoor) is aangewys as hoofuitvoerende beampte (HUB) en afgetrede brigadier Kiewiet van Zyl as hoofbedryfsbeampte (HBB).
Die direksie van die MSW sal aanvanklik bestaan uit prof. Fika Janse van Rensburg (adjunk-visekanselier van die NWU), me. Elmarie de Beer (uitvoerende direkteur: Finansies en Fasiliteite van die NWU) en Frans Kruger sowel as twee genomineerde verteenwoordigers van die munisipaliteit sodra die Raad op sodanige nominasies besluit het.
Die HUB en HBB sal begin met die aanvoorwerk om ‘n versoek vir voorstelle te rig vir die lewering van die verskillende dienste.
Dit sal die maatskappy in staat stel om ‘n begroting vir die bedryfsuitgawes op te stel en sal genoeg tyd toelaat vir die toekenning van die tenders sodat die Cachet SVD vanaf 1 Januarie 2019 geïmplementeer kan word.
Sodra die begroting bepaal is kan die proses van openbare deelname begin, wat sal behels dat besigheidseienaars, eienaars van eiendomme, ontwikkelaars en lede van die Sakekamer sowel as korporatiewe lede soos skole, kerke en ander instansies, die geleentheid sal kry om by die MSW aan te sluit.

Die lede sal ‘n vrywillige maandelikse heffing betaal om die maatskappy se bedrywighede te befonds.
Die bydraes van lede kan ook in die vorm van goedere, dienste en dies meer wees.Die huidige voorstel is dat die NWU ‘n lening aan die MSW maak.

Die koste van die totstandbrenging van die maatskappy, mensehulpbronne, betaling van die HUB en die HBB, en in die algemeen die bestuur van die MSW tot dit op sy eie voete kan staan.
“Beide partye het die hoop uitgespreek dat hierdie soort inisiatief ook in ander areas van die munisipaliteit tot stand sal kom.
Dié ooreenkoms sal die munisipaliteit in staat stel om sy hulpbronne op areas waar daar ‘n groot behoefte aan ontwikkeling en verbeterde dienslewering bestaan toe te spits,” lui die verklaring.
Raadslid Kgotso Khumalo, uitvoerende burgemeester, prof. Fika Janse van Rensburg en me. Elmarie de Beer is dit eens dat hierdie gesamentlike inisiatief van groot waarde sal wees vir die groter gemeenskap en het onderneem om alles in hulle vermoë te doen om die sukses van hierdie belangrike inisiatief te verseker.

Related Articles

Back to top button