HealthLifestyleNewsNews

Dr. Steyl, ’n ware Vaal-legende sterf

VANDERBIJLPARK. - ’n Donker wolk hang dié week oor die Vaaldriehoek na die afsterwe van die bekende dr. Isak Steyl, wat diep spore in die Vaaldriehoek, in besonder by die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) getrap het.

VANDERBIJLPARK. – ’n Donker wolk hang dié week oor die Vaaldriehoek na die afsterwe van die bekende dr. Isak Steyl, wat diep spore in die Vaaldriehoek, in besonder by die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) getrap het.

Dr. Steyl is in die vroeë oggendure op 8 Junie, ’n dag voor sy 90ste verjaardag oorlede.Volgens een van sy jarelange vriendinne en kollegas, me. Lynn Hartzenberg het hy in 2014 begin siek word. Dr. Steyl is in Prins Albert in die Wes-Kaap gebore. Hy het na skool sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch voortgesit waar hy ook sy doktorsgraad verwerf het. Dr. Steyl woon die afgelope 20 jaar in Hermanus waar hy afgetree het na sy suksesvolle loopbaan by die destydse Vaaldriehoek Technikon, vandag bekend as die Vaal Universiteit van Tegnologie.

Dr. Steyl is in 1971 by die instituut as rektor aangestel. “Hy het werklik ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die technikon na wat dit vandag is. Dit het ’n duidelike groei begin toon toe hy daar was,” sê me. Hartzenberg. Die bekende Isak Steyl-stadion is ook na hom vernoem. Hy was nou betrokke by die gemeenskap en die voorsitter van die Afrikaanse Handelsinsituut. “Dr. Steyl was ’n fenomenale persoon en ’n absolute mentor. Hy het op ’n podium geklim en vir langer as ’n uur gepraat sonder om een keer op sy papiere te kyk,” sê dr. Abe Kempen, kollega en vriend van dr. Steyl. Hy sê verder dat dr. Steyl dinge gesien het wat moes gebeur en vandag het dit gebeur.

“Hy het geglo wat reg is is reg en wat verkeerd is is verkeerd.” Dr. Steyl het in September 2011 as een van die gassprekers by VUT se gradeplegtigheid opgetree.

“Hy sal onthou word vir sy wysheid en oog op die fynste besonderhede. Ons is trots dat dr. Steyl deel was van die suksesvolle instituut.“Ons harte gaan uit na sy familie en vriende in dié moeilike tyd,” sê me. Kediemetse Mokotsi van VUT. Sy sê verder dat dr. Steyl geglo het in diversiteit en dat dit sy droom vir VUT was om studente van alle rasse en kultuurgroepe onderrig te gee. “Vandag is sy wens bewaarheid.”

Dr. Steyl word oorleef deur sy vrou Joy, twee stiefseuns en kleinkinders. Geen begrafnisreëlings was nog teen druktyd getref nie.

Related Articles

Back to top button