Entertainment

Fliekvlooi: Die beste fliek oor die swakste fliek

Ek gee The Disaster Artist 9/10. Die fliek is snaaks en bring verskeie emosies na vore.

My twee gunsteling akteur broers, James en Dave Franco speel in The Disaster Artist, ’n dramaties-komiese fliek wat gebaseer is op die akteur, skrywer en vervaardiger van een van die swakste flieks wat ooit gemaak is.
Tommy Wiseau (gespeel deur James Franco) het in 2003 die fliek The Room vrygestel, wat volgens verskeie kritici een van die swakste flieks nog is.

The Disaster Artist vertel die verhaal van hoe Wiseau The Room geskryf en vervaardig het. Wiseau ontmoet ’n jong dramastudent Greg Sestero (Dave Franco). Sestero streef daarna om ’n beroemde akteur te word, maar het nie die selfvertroue nie.

Hy bevriend Wiseau, ’n vreemde aspirerende akteur met ’n baie geheimsinnige agtergrond, om hom te help ’n beter akteur word. Die twee word boesemvriende en trek saam na Wiseau se woonstel in Los Angeles waar hulle hul drome wil laat waar word, maar geluk is nie aan Sestero se kant nie en Wisaeu baie het talle tekortkominge wanneer dit kom by talent.

 

Nie een van die twee bereik die sukses waarvoor hulle gehoop het nie en Wiseau besluit toe dat hy en Sestero hul eie fliek gaan maak waarin albei hoofrolle gaan speel. Wiseau skryf self die teks van ‘The Room’ en spandeer miljoene dollars om die fliek te produseer. Na jare se harde werk en sukkel om als reg te kry (aangesien Wiseau nie ’n baie goeie akteur is nie en heeltyd sy lyne vergeet) het The Room uiteindelik die lig gesien.

The Disaster Artist is gebaseer op Greg Sestero se topverkoper boek wat alles agter die skerm in detail vertel van hoe Wiseau en Sestero The Room gemaak het. Kritici beskryf The Disaster Artist as ’n skreeusnaakse herinnering dat daar meer as een manier is om ’n legende te word en dat daar geen beperking is tot wat jy kan bereik nie as jy absoluut geen idee het wat jy doen nie.

Ek gee The Disaster Artist 9/10. Die fliek is snaaks en bring verskeie emosies na vore. Daar is tye wanneer jy begin jammer voel vir Wisaeu, wat soveel drome het, maar amper geen talente nie. Beide die Franco boeties het ook hul rolle baie goed vertolk en ek sal nie aan ’n beter akteur kon dink om die absolute uniekheid van Tommy Wiseau te weerspieël nie.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button