
De Jager het op sosiale media geskryf hy doen dit met gemengde gevoelens, maar glo dis nodig vir sy gesondheid en sy lewensgeluk. Hy het Parysenaars bedank vir hul geduld wanneer munisipale dienslewering faal, soos dikwels gebeur.
Talle mense het met spyt en hartseer gereageer, en daar was groot waardering vir sy geesdrif en vakkennis waarmee hy munisipale probleme hanteer het.
“Ek is bitter spyt Saal bedank,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel. Hy sê Saal moes egter baie ure afstaan, “eenvoudig omdat munisipale amptenare nie hulle werk doen nie.”
Hoewel De Jager aanbly as DA-lid, sal aansoeke nou ingewag word vir kandidate vir sy vakante posisie.
As slegs die DA ‘n kandidaat benoem sal sy of hy onbestrede verkies word. As meer as een party kandidate benoem, sal ‘n tussenverkiesing in die wyk binne drie maande plaasvind.
Die plaaslike DA-takbestuur moet ook dringend vergader om ’n waarnemende voorsitter aan te wys, na die onverwagte afsterwe van dr. Hannes van Niekerk, wat die takvoorsitter was.
Dr. Van Niekerk is op 8 Mei in sy slaap in sy huis in Parys in die ouderdom van 73 jaar oorlede. Die roudiens was verlede Vrydag (18 Mei). Hy word oorleef deur Lalla, sy twee dogters, Rachelle Nel en Jule Botha, asook vyf kleinkinders, twee broers en twee susters.
Hy was vir langer as 30 jaar in Parys gevestig nadat hy as skoolhoof in Randfontein afgetree het. Dok Hannes het Anana Homes hier begin waar hy gemoeid was met die ontwikkeling en verhuring van eiendomme. Hy was ook vir 16 jaar betrokke by Basa Park.
’n Nuwe bestuur vir die plaaslike DA-tak sal later tydens die jaarvergadering verkies word.




