NewsNewsSportSport

Vaal se worpe-meester vierde in wêreld

SASOLBURG. – Meester-atleet Reuben Smit (65), trap reeds jare lank diep spore in Suid-Afrikaanse- en internasionale atletiekkringe, en dit met net een nier.

SASOLBURG. – Meester-atleet Reuben Smit (65), trap reeds jare lank diep spore in Suid-Afrikaanse- en internasionale atletiekkringe, en dit met net een nier.

In 2000 het Reuben een van sy niere aan sy dogter geskenk en sodoende haar lewe gered. “Dit was ‘n groot terugslag vir my atletiekloopbaan, maar dit is ‘n opoffering wat ek weer sal maak sonder om eers twee keer daaroor te dink. Ek voel egter geseënd om weer my Springbokkleure te kan dra,” sê Reuben.

Reuben Smit, wat met slegs een nier nie terugstaan as dit by atletiek kom nie. Foto: Schalk le Roux
Reuben Smit, wat met slegs een nier nie terugstaan as dit by atletiek kom nie. Foto: Schalk le Roux

Hy het tydens die S.A. Meesters Atletiek Kampioenskappe wat onlangs in Port Elizabeth gehou is, Springbokkleure in die ouderdomsgroep 65 tot 69 verwerf. Hy het sy teenwoordigheid laat voel deur ‘n goue medalje in die gewigstoot, vier silwer medaljes (diskus, hamergooi, massa-worpe en vyfkamp-worpe) en ‘n bronsmedalje vir spiesgooi te verwerf. Danksy dié prag-prestasies is hy deel van die Springbok Meestersspan wat in Augustus aan die Wêreld Meesters Kampioenskappe in Frankryk gaan deelneem.

“Ek is tans vierde in die wêreld in my kategorie vir gewigstoot en sal bitter graag in Frankryk my staal wil wys,” sê Reuben. “Ek weet egter nie of ek my land sal kan verteenwoordig indien ek nie nog borge kan kry om dit moontlik te maak nie.”

Reuben het onlangs afgetree en hou hom besig met die maak van aluminium vensters en skyfdeure. Hy is ook ‘n atletiekafrigter wat spesialeer in gewigstoot en diskus. Hy spandeer ook baie tyd aan sy eie atletiek. Hy oefen ten minste drie keer ‘n week aan tegniek en doen gewig- en maagoefeninge. Hy volg nie ‘n spesiale dieet nie, maar sorg dat hy genoeg proteïne inneem.

* Indien enigiemand wil bydra om Reuben se deelname in Frankryk moontlik te maak, kan hy by 083 230 5745 gekontak word.

Related Articles

Back to top button