NewsNews

Beveilig jou huis teen inbrake

Huisrooftogte is ’n konstante bedreiging in SA. Tref dié 10 voorsorgmaatreëls om jou risiko om geteiken te word te verminder

 

Professor Rudolph Zinn van die Skool van Kriminele Reg aan UNISA sê die volgende oor huisrooftogte:

 

  • Die meeste huisrooftogte word noukeurig beplan.
  • Die meerderheid huisrooftogte vind saans plaas, gewoonlik tussen 17:00 en 23:00.
  • Twee derdes (66%) van huisrooftogte word deur klein groepe van twee of drie rowers uitgevoer en die meeste rowers is glo mans tussen die ouderdom van 15 en 34 jaar.
  • In bykans alle gevalle word wapens gebruik.
  • Tot en met 77% van rowers wat in gevangenskap deur Prof. Zinn ondervra is, het binne-inligting van mense wat toegang tot die woning gehad het, onder wie huis- en tuinwerkers, verkry. “Wees dus baie versigtig wie jy in diens neem,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder vir die versekeringsmaatskappy Virseker.

 

“Met dít in gedagte is dit baie belangrik om te alle tye waaksaam te wees en die beste sekuriteitstelsels wat jy kan bekostig by jou woning te installeer om dit so moeilik as moontlik vir misdadigers te maak om toegang tot jou eiendom te verkry”, sê Twilley.

Hier is tien voorsorgmaatreëls wat Virseker voorstel om jou risiko om geteiken te word te verminder:

 

  1. Verskeie lae sekuriteit soos grensheinings, sekuriteitsligte, geslote-baan-veiligheidstelsels, alarmstelsels, verklikkerstrale, elektriese heinings, diefwering en selfs die teenwoordigheid van klein hondjies binne jou huis is van groot hulp.
  2. Duidelik sigbare GBTV-kamera’s kan ’n afskrikker wees.
  3. Gebruik die dienste van ’n goeie gewapende veiligheidsmaatskappy.
  4. Maak die sekuriteitsmaatskappy of polisie daarvan bewus indien jy enige verdagte groepe, individue of voertuie opmerk.
  5. Wees op die uitkyk na enige verdagte voorwerpe of merke rondom jou huis.
  6. Doen die nodige stappe om moontlike wegkruipplekke vir rowers – agter digte plante, byvoorbeeld – te beperk.
  7. Maak seker dat jou huis en tuin goed belig is – dit help baie wanneer jy laat tuiskom.
  8. Belê in elektriese hekke en ’n bystand-battery in die geval van ’n kragonderbreking.
  9. Maak seker dat jy die besonderhede van individue en maatskappye in jou diens aanteken en verifieer.
  10. Onthou dat huisinhoudversekering nie meer net ’n luukse is nie – dis ’n móét!

 

Twilley sluit af: “Onthou ook altyd dat huiseienaars wat nie ‘adverteer’ wat hulle besit nie, en hulle roetines gereeld afwissel, dit moeiliker maak vir misdadigers om planne te beraam en só hul kanse om geteiken te word verminder.”

 

Bron: Goeie Huishouding

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button