NewsNews

We Care gryp in by dorp se vullisverwyderingskrisis

Vullis wat in dele van Parys vir tot drie weke nie deur die munisipaliteit verwyder is nie, is Sondagoggend deur vrywilligers van We Care op eie inisiatief verwyder.

Volgens Wynand Nel van We Care, het sowat 14 mense op eie koste en tyd aan die aksie deelgeneem – almal lede van We Care, asook hul gesinne
Schwims het goedgunstiglik vyf sleepwaens beskikbaar gestel en agt voertuie is gebruik.  Daar is nagenoeg 40 vragte vol vullissakke (nie tuinvullis en oopgeskeurde sakke nie) aangery na ’n sentrale punt by die ou munisipale tuinvullis oorlaaistasie oorkant die provinsiale verkeerskantore.
Nel sê daar is besluit op die aksie omdat daar inwoners is wat geen ander manier het om hul vullis weg te ry nie. Die probleem kom dan wanneer hierdie sakke wat uitgesit is, stukkend geskeur word en die gemors die strate vol lê.
Daar is gereël dat die vullis-oorlaaistasie deur We Care gebruik kon word.
Saal de Jager, DA-raadslid vir Wyk 12  sê dit gebeur gedurig dat rommel nie verwyder word nie omdat die vullisverwyderingsvoertuie breek. “Dan hoop dit eenvoudig op, tot las van mens en dier.” Hy pleit lank al by die munisipaliteit vir ‘n plan B vir noodverwydering van rommel, maar tot dusver was dit sonder sukses. “Mnr. Nel en sy span het Sondag gewys wat gedoen kan word, sê De Jager.
De Jager sou Woensdag met die munisipaliteit se direkteur vir gemeenskapsdienste vergader om oplossings vir die vullisverwyderingskwessie te probeer kry.
Die munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer, het by navraag van Gazette gesê dat hy wag op ’n verslag van wat die redes vir die probleme met vullisverwydering was. Hy het egter gesê dat vullisverwydering vanaf Dinsdag weer op die geskeduleerde dae gedoen sou word. Hy het sy dank uitgespreek teenoor We Care vir die inisiatief wat geneem is.

Related Articles

Back to top button