NewsNews

Pyl se pyn erger as bosoorlog se koeël, sê onderwyser

Sasolburg - "Ek het net 'n sjoep-geluid gehoor en 'n skielike steekpyn gevoel en die volgende oomblik gesien die agterste deel van 'n boogpyl steek by my pens uit. Op daardie oomblik het ek geen verdere pyn gevoel of gewonder waar die pyl vandaan kom nie. Ek wou dit net uit my lyf kry en het dit uitgeruk. Dis seker 'n mens se oorlewingsdrang wat inskop."

 

So vertel mnr. Louis van Rooyen (63), ‘n voormalige bedryfsingenieur en tans Tegnologie-onderwyser by ‘n Christelike privaat-skool, oor die voorval toe hy op 15 April deur ‘n boogskutter se pyl in die buik getref is.

Mnr. Van Rooyen was besig met die afrigting van sy jong boerboel, Max (10 maande) by die hondeskool op Vaalpark Primêre Skool se sportterrein toe hy geskiet is. Max moes dadelik besef het iets ernstigs is verkeerd want toe sy baas grond toe gaan, het hy met sy hele 65kg beskermend en met rughare orent bo-oor hom gaan staan.

Die pyl het mnr. Van Rooyen se dikderm stukkend geruk, sy milt skrams getref, sy aorta met 4mm gemis (hoewel een van die kleiner are naby sy hart wel stukkend geskiet is), en uiteindelik teen ‘n rugwerwel vasgesteek.

Gelukkig sonder enige skade aan sy rugmurg. Hy is na sy seun se bakkie gesleep-dra omdat sy bene gou na die voorval begin lam word het. En toe kom die groot pyn.

“Ek het nog nooit so ‘n intense brandpyn beleef nie, selfs nie eens toe ek tydens die bosoorlog in die skouer geskiet is nie,” sê hy.

Na ‘n operasie van byna vier uur is hy in die waakeeenheid van die Vaalpark-hospitaal verpleeg waar hy eers ‘n week later tot verhaal gekom het en gehoor het wat nou eintlik met hom gebeur het.

Hoewel hy nog snye, steke en baie pyn is, is hy nou terug by sy huis in Sasolburg, maar die pad na herstel gaan opdraand wees. Hy moet vir drie maande ‘n kolostomiesakkie dra voordat dokters gaan poog om sy verinneweerde dikderm te heg. Hy het sedert die voorval reeds 15kg verloor omdat hy net ‘n bietjie sagte kos op ‘n keer kan eet en sy liggaam die voedingstowwe nie normaal kan opneem nie.

Waar hy normaalweg ‘n aktiewe sportafrigter is en hoërskoolseuns kan “opskrum”, kan hy nou net met moeite beweeg en in die sonnetjie sit. “Ek dink my liggaam se temperatuurmeter is ook stukkend geskiet want ek bly heeltyd koud,” Sê hy.

Die feit dat hy nie kan werk nie, is veral frustrerend. Hy was tot voor die voorval baie besig met die herskryf van tegniese skoolhandboeke en die opstel van senior leerlinge se vraestelle, maar sukkel tans met sy konsentrasie – ‘n newe-effek van die narkose en sterk pynmedikasie.

Na die skietvoorval is ‘n intensiewe polisiesoektog na die boogskutter dadelik op tou gesit. Vaalpark se inwoners was bekommerd dat ‘n “sluipskutter”ook ander inwoners of kinders in die omgewing kon teiken. ‘n Professionele boogjagter van Vanderbijlpark, mnr. Barry Deysel, kon met sy instrumente die trajek en afstand bepaal van waar die boogskutter gestaan het toe die pyl geskiet is. Dit was sowat 73 meter van waar mnr. Van Rooyen getre is.

Na verdere polisieondersoeke het ‘n inwoner van Vaalpark erken dat hy die dag met sy pyl-en-boog teiken geskiet het en mnr. Van Rooyen per ongeluk moes geskiet het. ‘n Saak van poging tot moord, wat vermoedelik tot die nalatige hantering van ‘n gevaarlike wapen verander sal word, is reeds geopen.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button