Dan was daar die standaard mynhuis-posbus: ‘n silwer blikposbus met ‘n gleufie vir koeverte. Die koerante is altyd opgerol en in die draad gesteek. Almal se huise was met draad omhein, mure en barb wire het eers later gekom.
Mettertyd het van die myners begin om afgesnyde staal silinders aan die blikposbus te sweiss, vir koerant-se-kind. Teen die vroeë 1990’s was posbus ontwerp ‘n hot topic in die Goudveld. Van die mynkaptein tot die skofbaas (en die vakleerling met die warm gemaakte Ford Escourt) het hulself as posbus-bouers voorgedoen; die een posbus meer uhm, ekstreem (die woord ‘eksoties’ kom ook in my gedagtes op) as die ander. So was daar in die straat voor Laerskool Volkskool ‘n posbus wat van ‘n winkelpop gemaak was. Dit was ‘n vreeslike vreemde affêre – dié mannekyn sonder hemp of haar, met ‘n koeëlronde gat in sy maag (vir die pos, natuurlik). Daar was oopgesaagde melkkanne, ou kampketels, uitgebrande toasters en ek het selfs per geleentheid ‘n traktaatjie van die Sondagskool in ‘n veselglas dolfyn se pens gegooi.
Toe tref sementposbusse die Goudveld. As jy naby die gholfbaan gebly het, dan het jy ‘n ronde gholfbal op ‘n tee gehad. As jy in die hoofstraat – of in die konsistorie gebly het, dan het jy ‘n mollige cherub gehad wat so oor jou (sement) posbus gehang het. Tot vandag toe glo my Ma dat dié cherub probeer om die pos te gaps, en meen sy dat die spesifieke mould in ‘n onbedagte oomblik die lig gesien het. Onthou jy die sementposbusse wat soos stewels gevorm was? Ek sê jou, daardie posbusse is gemaak om te hou.
Die enigste probleem met die sementposbusse is dat dit huisbewoners se vingers laat jeuk het om met verf aan diesulke skeppings te karring. So is daar vandag duisende vleeskleurige cherubs met Noord-Transvaal blou ogies, ‘n galsterige geel krullebol en ‘n giggel groen druiweblaar neffens hul naeltjies. Pa het per geleentheid mos ‘n tuindwergie so met die verf bygedam. Ons lag nou nog daaroor…. in die dorre Vrystaatse winter het die Willemses se tuindwergie met sy rooi tuitmondjie, ligpienk koorsagtige wangetjies en ek-verlang-na-jou ogies elke dag met ‘n (aangeverfde) vreugde aangedurf.
In Stilfontein het Pa se buurman vreeslik las gehad van bosduiwe. Jy sien, die duiwe sou op sy posbus sit en die wêreld vanuit ‘n hoogte beblerts. Van al die blertse het die posbus later soos ‘n tuitmiershoop begin lyk én met elke skoonskrop het die verf tot op die red oxide onderlaag afgedop. Buurman bedink toe ‘n slim plan: hy het sy posbus beveilig deur haaitande (skerp yster off-cuts) daarop aan te bring. Het dit gehelp? Ja. Die duiwe blerts nou eerder op die stoep. Is die posbus gebruikersvriendelik? Nee. Die posbus is nou ‘n skerp gevaarte wat geen vingerpunt ontsien nie.
My posbus is in die middelste ry van ‘n hele blok posbusse. Tipies kompleks-styl: almal dieselfde.
Ek kyk elke dag of daar pos is.