NewsNews

Onnies ontstoke oor korter Desembervakansie

Sommige Potchefstroomse onderwysers is ontsteld oor hul Desembervakansie wat vanjaar kortgeknip word. Die departement van basiese onderwys het onlangs in ’n verklaring gesê dat die 2018 Desember skoolvakansie korter gaan wees as vorige jare.

 

Sommige  onderwysers is ontsteld oor hul Desembervakansie wat vanjaar kortgeknip word.
Die departement van basiese onderwys het onlangs in ’n verklaring gesê dat die 2018 Desember skoolvakansie korter gaan wees as vorige jare.

Skole sluit op Woensdag 12 Desember vir leerders en op Vrydag 14 Desember vir onderwysers. Onderwysers moet dan weer op Maandag 7 Januarie terugkeer skool toe en klasse sal weer op Woensdag 9 Januarie 2019 begin.
Sonder om publieke vakansiedae in te sluit gaan leerders vanjaar slegs 16 dae vakansie en onderwysers 12 dae vakansie hê.

Onnies sê dat hulle briesend is hieroor omdat dié vakansie veronderstel is om die onderwysers en leerders uit te rus vir die nuwe skooljaar.

Sommige mense sê dat hoewel onderwysers vier vakansies ’n jaar kry, hulle nie veel tyd het om te rus nie aangesien baie van hul vakansietyd spandeer word aan skoolkampe, sportbyeenkomste, merkwerk, die opstel van vraestelle, invoer van punte, lesbeplanning en voorbereiding vir klasse.

’n Potchefstroomse onderwyser sê dat onderwysers baie stres ervaar. Die klasse is oorvol en daar is ’n tekort aan onderwysers. Boonop word onderwysers aanspreeklik gehou daarvoor as leerders druip.

“Onderwysers gebruik vakansies om beplanning te doen en voorbereiding vir die nuwe kwartaal en nuwe jaar, want daar is nie tyd in die skooldag om enigsins so iets te doen nie. Naweke is ook beperk met sport en dan doen mens ook nog voorbereiding vir die week wat voorlê,” sê sy.

Sy sê dat ouers nie hul kant bring nie en onderwysers deesdae nog dissipline ook aan die kinders moet leer voor hulle kan begin met die werklike skoolwerk.

“Die minste wat die department van onderwys kan doen is om hulle onderwysers beter te behandel en soos in ander lande ’n beter salarisskaal te gee, want alles wat teen my klaskamer se mure is kom uit my sak uit en daar word geen hulpmiddels verskaf nie. Dit is ook hoekom onnies vakansie nodig het, om hulpmiddels te maak vir ’n beter leeromgewing,” sê sy.

’n Potchefstromer het op Facebook gesê dat sy die onderwysers baie jammer kry.

“Die onderwysers is oorwerk, kinders van vandag is baie ongehoorsaam en vol arrogansie. Ek kry een en elke onderwyser/es so bitter jammer. Hul kort ’n lang vakansie en nie die kort vakansie nie.
Vandag se onderwysers moet hare op hul tande hê,” het sy gesê.

Volgens die verklaring is hierdie aanpassings slegs geldig vir die 2018 Desembervakansie en is dit nie ’n aanduiding van hoe volgende jare se kalenders gestruktureer gaan word nie.

Die rede vir die aanpassings is weens die Raad van Onderwysministers se besluit om skole vanaf 2019 in die eerste week van Desember te sluit sodat die merkwerk van die eindjaar matriekeksamens nie ’n negatiewe impak op onderrigtyd het nie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button