NewsNews

Misdaad moet aangemeld word

GPF vra gemeenskap om saam te werk Die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) doen ’n baie ernstige beroep op lede van die publiek om misdaad by die polisie aan te meld. Die nie-rapportering van misdaad lei daartoe dat die polisie sowel as We Care en Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV) nie kennis dra van spesifieke probleemgebiede …

GPF vra gemeenskap om saam te werk

Die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) doen ’n baie ernstige beroep op lede van die publiek om misdaad by die polisie aan te meld.
Die nie-rapportering van misdaad lei daartoe dat die polisie sowel as We Care en Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV) nie kennis dra van spesifieke probleemgebiede waar om te patrolleer, of lede te ontplooi nie, verduidelik Anne-marie du Toit, voorsitter van die Parys GPF.
Sy sê dat sigbare polisiëring ’n effektiewe wyse is om misdaad te bekamp en akkurate misdaad statistiek speel ’n belangrike rol daarin. “Misdaadstatistiek is eers geldig nadat dit aan die SAPD rapporteer is. Sommige inwoners is egter van mening dat sodra ’n misdryf gepleeg is, die misdryf verby is, wat nie die geval is nie,” beklemtoon Du Toit.
“Sodra sake gerapporteer is, kan die polisie werk aan verbandhoudende sake en eenderse omstandighede vergelyk, en sodoende verdagtes opspoor,” sê sy.
Dit maak nie saak hoe onbelangrik jy voel ’n  voorval is nie – rapporteer dit steeds, is Du Toit se raad.
Rapportering help die polisie om misdaadtendense vas te stel en sekere modus operandi te bepaal, maar die belangrikste is dat kriminele agter tralies beland.
Om ’n misdryf te rapporteer, is gratis en al die nodige dokumentasie word deur die polisiebeampte voltooi in die polisiestasie se gemeenskapsdienssentrum, waarna ’n saakdossier geopen word. Die saak word dan ondersoek deur ‘n polisie speurder.
Alle navrae word aan die speurderskantore gerig waarna die voltooide dossier aan die staatsaanklaer oorhandig word wie besluit of daar vervolg sal word, al dan nie.
Die publiek word versoek om te verseker dat hulle óf ‘n MASnommer of minstens ‘n IR-nommer kry wanneer sake aangemeld word.
Jy kan ook kriminele aktiwiteite anoniem rapporteer deur 08600 10111 te skakel, ’n sms-boodskap na 32211 te stuur, of besoek die webtuiste www.crimeline.co.za.
Soms het lede van die publiek nie net ’n verpligting om misdaad te rapporteer nie; daar rus ’n ook regsplig om sekere misdrywe te rapporteer. Voorbeelde hiervan is kragtens artikel 34 van die Wet op Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite, of soos bepaal word kragtens artikel 54 van die Strafregwysigingswet (seksuele midrywe en aanverwante aangeleenthede) 32 van 2007 in terme waarvan jy aan ’n misdryf skuldig is indien jy nie seksuele oortredings teen kinders en verstandelik gestremde persone rapporteer nie.
In Parys blyk huisbrake, diefstal by besighede en diefstal van en vanuit motorvoertuie ’n probleem te wees, maar steeds kan hierdie misdaad slegs behoorlik aangespreek word indien dit gerapporteer word.
Du Toit sê onwettige karwagte is ook ’n  probleem, en diegene wat hulself as karwagte voordoen, is veral oor naweke in die hoofstraat ’n groot kopseer.
Die GPF pleit by die gemeenskap om nie fooitjies aan ongeregistreerde karwagte (dit wil sê diegene wie nie by PSIRA geregistreer is nie), te gee nie. Deur só fooitjies uit te deel, bekamp die gemeenskap nie misdaad nie, maar neem inderdaad deel daaraan.
Geregistreerde karwagte word onder andere op gereelde basis deur ongeregistreerde karwagte aangerand, sê Du Toit.
PSIRA, wie die privaat sekuriteitsektor reguleer, kan ‘n boete van tot R10 000 aan ’n ongeregistreerde karwag oplê.
Lede van die publiek kan karwagte wie wel geregistreer is, uitken aan hul identiteitskaart wat deur Parys GPF aan hul oorhandig is. Enige karwagte wie wel by PSIRA registreer is en nog nie in besit van ’n identiteitskaart is nie, word aangeraai om dringend met a.o Jan le Roux by die Parys-polisiestasie in verbinding te tree.
Goeie nuus is dat die SAPD tans besig is om ‘n personeeltekort by die Parys-polisiestasie aan te spreek om dienslewering te verbeter. Indien jy ‘n klagte het oor dienslewering, word jy aangemoedig om jou klagte by die stasiekommissaris of gebiedshoof (“Cluster” hoof) aan te meld, wie aktief dienslewering ondersoek.
Die gemeenskap moet onthou dat daar nie noodwendig ’n arrestasie op ‘n toneel plaasvind nie, maar in so ’n geval moet die gemeenskapslid steeds die polisiestasie besoek en ‘n klagte gaan lê, waarna ‘n arrestasie moontlik kan plaasvind. Geen voorval is onbelangrik nie.

Die Parys GPF vra die publiek om die volgende noodnommers byderhand te hou in geval van nood:
Parys Polisiestasie 056 811 2500/2516/19
Koppies Polisiestasie 056 777 2811
Vredefort Polisiestasie 056 931 0002
Heilbron Polisiestasie 058 853 5211
Edenville Polisiestasie 056 631 0005
Radio Light Patrols (We Care) se Wynand Nel 082 629 1553
Landelike en Gemeenskapsveiligheid 076 683 4544
Security Master 072 989 0901
Parys Sekuriteit 056 817 6030
CSS Sekuriteit Parys 056 811 5345

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button