News

Toestand van paaie in die Vrystaat bedreig lewens

Die toestand van die Vrystaatse paaie bedreig die lewens van padgebruikers en die ekonomiese vooruitgang van die provinsie.

 

 

 Menige paaie wat belangrike roetes vir ekonomiese aktiwiteit en toerisme is, is in ‘n haglike toestand. Instandhouding van die provinsie se paaie moet prioriteit geniet en kontrakteurs wat aangestel word om die werk te verrig moet verantwoordbaar gehou word en op grond van meriete aangestel word. 

 

Só het VF Plus-LPW, Tammy Wessels, gesê tydens die begrotingsposdebat van die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer vandag in die Vrystaatse wetgewer.

 

 

“Die LUR van polisie, paaie en vervoer in die provinsie, mnr Sam Mashinini, tree streng op teen kontrakteurs wat werk van swak gehalte lewer en dit word verwelkom, maar sodanige kontrakteurs moes in die eerste plek nie aangestel gewees het nie,” meen sy.

 

“Daar is te veel korrupsie met die toeken van tenders vir die bou en instandhouding van die provinsie se paaie. Baie projekte neem etlike jare om te voltooi en die kwaliteit van werksverrigting is substandaard.”

 

Die departement is net so verantwoordelik vir die groei en stimulering van die Vrystaat se ekonomie, soos wat dit is vir die veiligheid van die provinsie se inwoners en almal wat sy paaie kruis. 

 

Sonder die nodige polisie-sigbaarheid en veiligheidsmaatreëls sal inwoners nie veilig genoeg voel om in die provinsie te woon, belê of besighede te begin nie.  Dit het dus ‘n direkte invloed op die ekonomie en werkloosheidskoers van die Vrystaat.

 

“Lisensiëringskantore en toetsstasies, soos die van Nketoana (Reitz, Lindley, Petrus Steyn) se werksaamhede word ingeperk as gevolg van ‘n tekort aan vaardighede, infrastruktuur en befondsing met die gevolg dat hulle nie hul funksies kan vervul nie.” 

 

“Padwaardigheidstoetse kan, soos in die geval van Nketoana, nie meer by die toetsstasie gedoen word nie. Voertuie moet na Sasolburg of Bethlehem gaan om padwaardigheidstoetse te ondergaan.  Dit lei tot onpadwaardige voertuie op die pad wat die lewens van die mense van die Vrystaat bedreig.  Dit knel ook die inkomstestroom van die departement wat reeds onder geweldige druk verkeer.”

 

Wessels het verder gesê plaasaanvalle en -moorde moet prioriteit geniet.  Daar was meer as een plaasaanval per week gedurende 2017.  “Hierdie sinnelose misdade bring ‘n plaas tot stilstand wat voedselsekerheid bedreig en ‘n reuse impak op die lewens van boere en werkers het.  ’

 

Die LUR moet landelike beveiliging prioritiseer en sorg dat polisie en reaksie-eenhede behoorlik toegerus en opgelei is om sulke misdade te voorkom en vinnig op te tree wanneer dit wel plaasvind, sê sy.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button