Wat jy moet weet van more se nasionale staking
Baie mense is paniekbevange oor die beplande nasionale stakings wat more (25 April) landwyd gaan plaasvind. Verskeie mense het al op Facebook en Whatsapp groepe gevra hoe hulle hiervoor kan voorberei.

Daar is tans geen kennis van wettige stakings of optogte môre in Parys en onmiddellike omgewing nie.
Die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde (SAFTU) het wel duisende werkers genooi om more deel te wees van ‘n optog in opstand teen die minimum lone wat vanaf 1 Mei in werking gestel gaan word.
SAFTU het gister ‘n verklaring uitgereik wat aandui waar betogers oral bymekaar gaan kom. Daar is toe gesê betogers beplan om in Gauteng, Wes-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat, Limpopo en KwaZulu Natal bymekaar te kom.
Provjoints (Provinsiale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur) van die polisie in die Noordwes het in ‘n persverklaring mense gewaarsku om nie betrokke te raak by enige onwettige stakings en optogte nie. Hulle sê dat gemeenskapspolisiëringsforums moet aktief deel neem aan die bekamping van enige onwettige aksies tydens stakings soos diefstal, die beskadiging van infrastruktuur, intimidasie, aanranding en enige gewelddadige onwettige gedrag.




