BlogsOpinions

Ingewikkelde keuses

Liewe Persoon, Hoekom moet alles so ingewikkeld wees? Wat het geword van reg óf weg?

Van ja óf nee. Jy is óf ‘n Blou Bul óf ‘n Cheetah. Pienk of blou. Carbs of protein. Skielik is alles grys en iewers in die middel, want jou ‘ja’ is nou ‘miskien’. Skielik is ek terug in Juffrou van der Walt se Skeinatklas, en probeer ek naarstigtelik uitwerk teen watter spoed die magtige Vaalrivier vloei.

Onthou jy daardie berekeninge? Jannie staan op die wal van die rivier. Die wind waai teen “x” en Jannie en sy bootjie beslaan gewig “y”. Dit sal hom “z” minute vat om die rivier oor te steek. Hoe vinnig vloei die rivier? Huh?!  Elke keer as dié vraag uit ‘n vraestel gespring het, het ek dadelik na Vraag 2 gesnel. En dan? Dan lui Vraag 2: “Gebruik die antwoord wat jy in Vraag 1 bereken het, en bepaal op watter dag van die week Jannie oor die rivier wil roei!” Eish!

Vandag is weer so ‘n dag.

Daar is ‘n koue knyp in die lug, maar dit is te warm vir ‘n baadjie. Hongerte dryf my na die kafeteria en daar is die keuse: ham-en-kaas en, ham-en-kaas. So. Ek kies toe ‘n toasted ham-en-kaas en bid dat die onlangse polonie-pes werklik iets van die verlede is.

William en Catherine se pienkvoet is gebore, maar die arme kind het nog nie ‘n naam nie! Ek meen, hulle het mos geweet die kindertjie is op pad. Hy was nie ‘n spoedpos-bestelling nie… A-nee-a!

In Vanderbijlpark staan inwoners weer voor ‘n anderste moeilike besluit: die munisipaal meen elke huis mag net twee honde hê. Maar hoe nou? Wagter, Pote en Simson slaap buite om booswigte uit die nuwe Sprite two berth caravan te hou – in hierdie geweste steel hulle mos so ‘n karavaan dolleeg, dat net sy dop op die bakstene bly staan.  Mignon slaap by Sussie in die kamer. Dis nou Mignon, die teacup Yorkie, wat elke week by die hondesalon draai en wat selfs haar eie stootkarretjie het. Hoe kies jy? Watter woef bly en watter een gaan by oupa en ouma op die plaas bly?

Die besluit om deur of om ‘n pothole te ry, is nog een van daardie taai toffies. Ry jy deur die slaggat (krater) dan sluk die aarde jou in én jy verloor ‘n band (of twee). Ry jy om die slaggat tref jy dalk ‘n omstander en dan maak die gereg namens jou keuses.

In my etensuur sien ek die mooiste geborduurde loafers in Milady’s se venster. Ek sê jou, dit is fabelagtig mooi. Is daar ‘n paar in my grootte? Ja! Is dit amper pay day? Ja! Het ek iets om dit by te dra? Nee!  Die keuse is dus: koop die pragtige skoene en ten minste een bypassende outfit óf vergeet van die skoene en indulge in Woollies se tjoklit bruintjies – as gevolg van my volwasse besluit om nie my begroting te (ver)rek nie, en sit gewig aan.

En dit is nie net ek wat met hierdie ingewikkelde (en onnodige) besluite sukkel nie. Vra maar vir enige vrou, sy sal vir jou sê dat sy sonder twyfel ‘n gunsteling handsak het. Vra haar sommer ook hoeveel handsakke sy het… ek kan jou wed sy het ‘n handsak (aandsakkie, rugsakkie, palmtas, beursie) vir elke dag van die week. Probeer nou om die inhoud van gegewe gunsteling handsak oor te dra na ‘n ander handsak: onmoontlik. Daar is altyd – en ek bedoel ALTYD, iets wat in die slag bly.

My Ma het ‘n tante gehad wat ook met ingewikkelde besluite gesukkel het. So het sy per geleentheid besluit om ‘n lang verestowwer by ‘n straatsmous te koop. Jy sou dink dat dit ‘n baie eenvoudige besluit is, maar helaas nie. Sy het terstond op die plek begin om elke verestowwer eers deeglik uit te toets. Waarde vir pensioengeld,  jy sien. Dit was net volstruisvere waar jy kyk en die arme straatsmous moes bontstaan om nie sy hele voorraad verestowwers daar in die hoofstraat – voor die poskantoor, kwyt te wees nie. Het sy een gekry wat aan haar kwaliteitstoets voldoen het? Nee.  Ek reken dit is soos die Engelse sê, “a catch-22 situation“. Wat help ‘n lang verestowwer anyway as die vere vinniger as die stof (rond)val.

Soos ek hier sit wonder ek juis: moet ek vanaand ‘n paar ekstra ure insit en môre-oggend laat lê of dadelik die kooi bekruip en voordag opstaan…

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button