News

Potchefstroom nou ‘Potholestroom’

Net soos in Parys is baie paaie in Potchefstroom nou al meer gat as pad.

Dit is hoe dit sowat ‘n week gelede nog op die hoek van Wynne- en Republiekstraat in Potchefstroom gelyk het.

Die pad tussen Potchefstroom en Promosa (Allan Hendrikspad) het nou al so erg verval dat die munisipaliteit besluit het om die pad in ’n grondpad te verander, eerder as om dit reg te maak.

Dié pad is al vir jare lank ’n kopseer vir mense wat gereeld van Potchefstroom na Promosa moet ry, aangesien die slaggate so erg is dat die meeste padgebruikers maar eerder op die stuk grond langs die pad ry as op die pad self.
Die J.B. Marks munisipaliteit het by ’n onlangse raadsvergadering die voorstel gemaak om die pad eerder na ’n grondpad af te gradeer.

Dit is hoe dit op die pad lyk tussen Potch en Promosa. Foto: verskaf

Dit is hoe dit op die pad lyk tussen Potch en Promosa. Foto: verskaf

’n Woordvoerder van die stadsraad, Willie Maphosa, sê dat die departement van infrastruktuur die tydelike afgradering van die pad voorgestel het, maar dat die raad dit nog moet goedkeur. Hy sê dat hierdie wel net tydelik sal wees, aangesien die pad bestem is om mettertyd ’n opgradering te ondergaan.

Die Potch/Promosa-pad is nie die enigste probleem in die stad nie. Baie van die paaie is besig om vinnig agteruit te gaan. Een so ’n pad is Wynnestraat in Bailliepark.

“Dit sal beter wees as hulle hierdie hele pad nou maar net ’n grondpad maak,” sê Marilyn Rossouw, ’n Potchefstroomse fietsryer wat daagliks met haar fiets in Wynnestraat ry. Op verskeie dele in die pad is daar amper meer gate as teer, en dit begin net al erger raak. Sy sê dat die pad al vir baie lank so lyk en dat dit ’n gevaar is vir die fietsryers wat daar moet ry.

“Die gate op die hoek van Wynne- en Republiekstraat is so erg dat ons in die ander baan moet ry om verby dit te kom,” sê sy.

Die gate op die hoek van Wynne- en Republiekstraat is met sand toegegooi, maar die reën het die meeste van die gate weer oopgespoel. Marilyn Rossouw ry hierdie pad daagliks met haar fiets. Foto’s: Marianke Saayman

Die gate op die hoek van Wynne- en Republiekstraat is met sand toegegooi, maar die reën het die meeste van die gate weer oopgespoel. Marilyn Rossouw ry hierdie pad daagliks met haar fiets. Foto’s: Marianke Saayman

Wanneer daar verkeer van voor af kom, het die fietsryers geen ander keuse as om deur die gate te ry en sodoende hul fietse te beskadig nie. Die paaie in Potchefstroom lyk oral sleg.

’n Leser het die Potchefstroom Herald gister geskakel om te sê dat hy Dinsdag sy motor afgeskryf het toe hy deur ’n slaggat gery het. Hy sê na die reën is dit onmoontlik om te sien hoe diep die gate is en soms sien mens glad nie die gate nie, want dit lyk soos waterplasse.

“Ek dink dit is tyd dat inwoners opstaan en weier om belasting te betaal, want hulle gebruik in elk geval nie ons belastinggeld om die stad in stand te hou nie,” sê hy.

'n Gat op die hoek van Wynne- en Aalwynstraat is so groot dat Marilyn Rossouw en ander fietsryers in die baan vir aankomende verkeer moet ry om dit te vermy.

‘n Gat op die hoek van Wynne- en Aalwynstraat is so groot dat Marilyn Rossouw en ander fietsryers in die baan vir aankomende verkeer moet ry om dit te vermy.

 

Related Articles

Back to top button