NewsNews

Drie NWU-navorsers vir uitstaande werk bekroon

Drie navorsers van die Noordwes-Universiteit is deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir hul werk bekroon.

Drie navorsers van die Noordwes-Universiteit is deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir hul werk bekroon.

Prof. Tiaan Brink

Proff. Leonie Stander van die Fakulteit Regte het die Toon van den Heever-prys vir regswetenskap ontvang, Tiaan Brink van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe het die FARMOVS-prys vir farmakologie en geneesmiddelontwikkeling ontvang en Christo van Rensburg, navorsingsgenoot van die Fakulteit Geesteswetenskappe, het die CJ Langenhoven-prys vir taalwetenskap ontvang.
• Van Rensburg het ook die Jan H. Marais-prys vir vanjaar ontvang, die grootste prys van sy aard in Suid-Afrika, ook vir sy uitstaande bydrae in Afrikaans as wetenskaptaal.
Stander het die prys, wat driejaarliks toegeken word, ontvang vir oorspronklike regskundige werke in Afrikaans, asook vir vollengte artikels van hoogstaande gehalte in Afrikaans wat in geakkrediteerde regstydskrifte verskyn het.
Volgens die Akademie het Stander hoogstaande vollengte navorsingsartikels op verskillende terreine binne die regswetenskap gepubliseer.
Brink het sy prys ontvang vir voortreflike bydraes tot ‘n vertakking van farmakologie en geneesmiddelontwikkeling.
Hy het volgens die Akademie nie alleen uitstaande bydraes op die terrein van farmakologie op nasionale terrein gemaak nie, maar geniet ook wye aansien op die kontinent en internasionaal as farmakoloog.
“Brink beskik oor ‘n besondere talent om innoverend en nuut te dink.
Hy was ook die programleier van die web-gebaseerde honneurs B.Sc.-graad in farmakologie wat by bykans twintig jaar op ‘n afstandsonderrigmodel aangebied is.
Vir sy bydraes op onderriggebied ontvang hy nie slegs institusioneel erkenning nie, maar ook op internasionale gebied.”
Van Rensburg is ‘n emeritus professor van die Universiteit van Pretoria wat by sy aftrede direkteur van die Eenheid vir die Ontwikkeling van Taalvaardigheid was. Hy is tans ‘n navorsingsgenoot by die NWU waar hy sy navorsing oor Afrikaans voortsit.
Volgens die Akademie is hy in taalwetenskapkringe bekend vir die werk wat hy gedoen het om Afrikaans se variëteite te identifiseer, op te teken en te ontleed, en om die plek van dié variëteite in die Afrikaanse taalwêreld te integreer.

Prof. Leonie Stander

“Hy het oor ‘n lang tydperk en standhoudend sy internasionalisering van die Afrikaanse taalkunde, en in die terugploeg van sy kundigheid en kennis in die Afrikaanse taalkundelandskap bewys.”
Die ontvangers sal hul pryse tydens ‘n bekroningsgeleentheid op 18 Julie in Pretoria ontvang.

Prof. Christo van Rensburg

Die Jan H. Marais-prys word gedeel met prof. Marinus Wiechers, ‘n regsgeleerde en voormalige rektor van UNISA en word op 30 Mei by ‘n glansdinee in Stellenbosch aan die ontvangers oorhandig.

Related Articles

Back to top button