NewsNews

Onvoldoende padtekens eis nog ‘n lewe

SASOLBURG. – Twee ongelukke op Vrydagaand 13 April by dieselfde T-aansluiting op die Wonderfonteinpad, het nog ‘n lewe geëis wat voor die deur van onvoldoende padtekens gelê kan word.

Francois du Plooy (47), lid van die plaaslike Mac’s-motorfietsklub, het sy lewe verloor nadat hy en ‘n vriend, David Green (38) by die T-aansluiting op dié pad gery  het waar geen stopteken, strepe of naambord sigbaar is nie. Die eerste ongeluk die betrokke aand het omstreeks 23:30 plaasgevind toe Thuvia van der Gryp (26), met haar Ford Fiesta oor dié T-aansluiting gery en teen die wal afgery het. Thuvia is gelukkig nie beseer nie en het haar vriend, Stewart Truscott, gebel om te kom help.  Stewart en sy pa At is na die toneel en het die voertuig uitgesleep. At het op die toneel aan Vaalweekblad vertel dat, terwyl hulle net voor die aansluiting gestaan het nadat hulle die Fiesta uitgesleep het, hulle die motorfietse hoor aankom het. Hy het met sy flits die motorfietsryers probeer waarsku, maar albei is verby hom en kon nie betyds rem nie.
Francois op sy Kawasaki ZX14, en David op ‘n Boulevard, is oor die aansluiting en albei motorfietse het teen die wal afgery en teen ’n tweede groot wal tot stilstand gekom. Die groot wal is juis deur die eienaar van die grond daar gegooi om te keer dat voertuie wat oor die T-aansluiting ry, nie sy e iendom se heinings beskadig nie.
Volgens Stewart het Francois vir sowat 13 minute asemgehaal, maar is sowat 10 minute voor Netcare 911 opgedaag het, oorlede. Hy was egter nie by sy bewussyn nie.
David het ‘n hele ent verder gelê. David was by sy bewussyn en Stewart het hom aangesê om net stil te lê en te wag vir die paramedici. Hy is op die toneel behandel en na Mediclinic Vereeniging geneem vir verdere behandeling. David was gelukkig om net ‘n knie- en spierbeserings op te doen. Hy sterk tans tuis aan. Hy het Maandag aan Vaalweekblad vertel dat Francois die noodlottige aand voor gery het. Hulle ry altyd stadiger sodra hulle die chevron-bordjie sien, wat vermoedelik daardie aand in die eerste ongeluk deur Thuvia uitgery is. “Die volgende oomblik was daar net gruis op die pad. Francois het eerste geval en ek daarna,”
onthou David.* Francois laat sy vrou Tracy en dogters Monique en Chanè-Leigh agter. Sy roudiens vind Donderdag 19 April om 11:00 vanuit die Kompasgemeente plaas.

 

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button