NewsNews

Reece is ‘n boer met visie

Reece Dedwith van die plaas Rockridge en algemene bestuurder van die Wynn-with Melkery in die Parys-distrik, sien homself en die boerdery nie verniet as een van die groter melkerye en verpakkingsaanlegte in die land nie.

Hy glo jongboere het ’n  groot verantwoordelikheid, en daarom wil hy nog meer waarde toevoeg tot die produkte wat Wynn-with reeds aan die mark lewer.
Reece het die besondere prestasie behaal om as een van die vier finaliste aangewys te word in vanjaar se Vrystaat Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie. Hoewel hy nie met die wentoekenning weggestap het nie, was dit ongetwyfeld vanjaar ’n moeilike taak wat die beoordelaars gehad het om hierdie vier uitstaande jongboere te moes beoordeel.
Reece se pa Wynn, het in 1970 met die melkery op Rockridge begin, waar hy deur-tot-deur aflewerings gedoen het tot die vroeë tagtigerjare. Vandag het die melkboerdery ’n Holstein kudde wat top kwaliteit melk produseer.
Melk word ook aangekoop van omliggende melkboere, wat dan verwerk word in die fabriek om ’n  wye reeks produkte met die huisnaam, Wynn-with produkte, te kan lewer. Naas melk sluit die produkte onder meer ook Amasi en ’n verskeidenheid jogurts en vrugtesappe in, en vorm die verpakkingsaanleg juis ook ’n groot deel van die boerdery.
Wynn-with voorsien aan die meeste handelsgroepe (met die uitsondering van Woolworths) in die Noord-Vrystaat en Suid-Gauteng, asook alle Checkers-winkels in die noorde van die land.
Reece is getroud met Megan en die egpaar het twee kinders, Julia (3) en Rory (2).
Hy het sy skoolloopbaan in Parys begin waarna hy na die Natal Midlands is, en in 2003 aan Michaelhouse gematrikuleer het.
Hy voltooi hierna sy B.Sc.-graad in Dierkunde aan Tukkies in Pretoria.
Van kleintyd af was hy betrokke op die plaas waar hy skoolvakansies gehelp het. Na sy universiteitstudies het hy teruggekom plaas toe en eers met die vee en landbou aktiwiteite op die plaas gehelp. Later het hy meer by die melkery self, en spesifiek die bemarking en verkope kant as algemene bestuurder van die Wynn-with Melkery, betrokke geraak.
Om as finalis in Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar-kompetisie aangewys te word, is net een van verskeie hoogtepunte wat hy reeds in sy loopbaan behaal het.
Hieronder tel die wentoekenning vir die De Heus on Farm Challenge, Santam Silage kampioen 2017, Master Dairymans-toekenning 2009-2016, en die Wynn-with fabriek se produksie wat hy van 2013 tot 2015 verdubbel het.
As hy nie boer nie, geniet hy motorsport en jag.
Ten spyte van moeilike omstandighede vir boere vandag is Reece positief oor die toekoms. Hy sê hoewel daar skommelings is wat tans plaasvind, bring dit weer geleenthede wat solank jy voor op die golf is, en jy planne het, boere beslis in die land moet bly en elke geleentheid optimaal moet benut.
Sy uitkyk op die lewe is om seker te maak dat dieselfde foute nie gemaak word nie, en daar nie gestagneer word by dieselfde dinge wat die afgelope 40 jaar gedoen is nie.
Volgens Reece lê die sukses van boerdery in nuwe idees, om vrae te vra, die ervaring van die ouer manne te gebruik, maar aan te pas by die situasie waarin Suid-Afrika vandag is met ’n nuwe manier van dink.
Kompetisies soos Jongboer van die Jaar bied aan boere wat baie hard werk en hulself onderskei in wat hulle doen, ’n  uitstekende geleentheid tot erkenning, maar ook kontak met ander mense in die boerderybedryf wat in dieselfde situasie is in ander gebiede van die land, sê hy. Dit skep só geleentheid om idees uit te ruil, veral waar dieselfde probleme en uitdagings ondervind word.
Die wenner van vanjaar se kompetisie is Woensdag 12 April by die Monte Bello Estate in Bloemfontein aangekondig tydens Vrystaat Landbou se Jongboer-konferensie waarvan die tema vanjaar “Gesamentlike Boerdery” was. Die kompetisie vir Jongboer van die Jaar is vanjaar vir die 22ste keer aangebied in samewerking met Standard Bank SA.
Naas Reece was die ander drie finaliste Hendrik Theron, Wessel Hattingh, en Nelius Ferreira, ’n  bonsmara boer van Harrismith, wat ook as wenner aangewys is.
Afdelings waarna gekyk is met die beoordeling sluit onder meer in toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking en gemeenskapsbetrokkenheid. Die belangrikste maatstawwe is bestuursfilosofie en hoe tegniese vaardigheid aangewend word om dit toe te pas, sê Vrystaat Landbou.
Volgens prof. Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaarspaneel, gaan dit nie oor omvang nie, maar oor hoe die boer dit wat hy doen gedoen kry, en of hy ’n unieke bydrae maak. “Hy moet ’n voorbeeld stel vir ander landbouers oor die algemeen, asook vir jong landbouers. Die wenner het onder andere ’n oorsese reis gewen danksy Case IH en Northmec, en dring  deur as finalis in Toyota SA Agri SA se Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Related Articles

Back to top button