NewsNews

Dalk binnekort jongste vlieënier in provinsie

Die 8-jarige Dillan Senekal gaan dalk binnekort die jongste afstandbeheerde modelvliegtuig vlieënier in die Noordwes wees.

Dié klein blondekop kan ’n vliegtuig wat amper so groot soos hy is, met gemak in die lug hou en laat rondvlieg asof dit kinderspeletjies is.
Om so ’n vliegtuig te vlieg is egter nie kinderspeletjies nie. Van die vliegtuie weeg sowat 5 tot 6 kg en vlieg tot 200 km per uur.
“Dit verg baie konsentrasie. Dit is nie so moeilik om die vliegtuie te vlieg nie, maar jy moet weet wat jy doen. As jy gaan probeer om toertjies te doen wat buite jou bereik is, dan gaan jy hom breek – en as hy val is hy stukkend,” sê Dillan se pa, Kobus Minny, wat die rede is dat Dillan ’n passie vir die stokperdjie het.
Kobus het ’n paar jaar gelede begin om saam met sy swaer, Shaun Grobler, radarkarretjies te ry. Hulle het eers op die sypaadjies met die karretjies rondgejaag en later op ’n baan begin resies hou. Later het Kobus en sy swaer vir hul kinders ook elkeen ’n karretjie gekry en die familie het dit as ’n ernstige stokperdjie begin opneem. Kobus en sy swaer het selfs aan die nasionale kampioenskappe met hul karretjies begin deelneem.
In September verlede jaar, net voor sy verjaarsdag, het Kobus besluit dat hy hierdie stokperdjie verder wil neem en met vliegtuie begin oefen.
“My pa het jare terug toe ek klein was vir my ’n Trainer vliegtuig gekoop. Ek het dit een keer gevlieg en toe aan die plafon opgehang.
Daar het hy gehang tot ek uiteindelik ’n belangstelling in die vliegtuie gekry het,” sê Kobus.
Vir sy verjaarsdag het sy vrou toe vir hom ’n klein polistireen radiobeheerde vliegtuig gekoop om mee te leer en sy swaer het vir hom ’n nabootserprogram gekoop waarop hy by die huis kon oefen om die vliegtuigies te beheer. Hy, sy swaer en sy swaer se ouer seun Rohan van der Walt (15) het toe saam begin vlieg en selfs hul solo-eksamen gaan aflê.
Op ’n dag het die gesin by die vliegklub gaan vlieg en Hanro van der Walt (8), Dillan se nefie het toe ook ’n kans gekry om met een van die klein vliegtuigies te vlieg.
Dillan wou toe natuurlik ook ’n vliegtuig hê, maar ’n groter een. Hy het toe sy verjaarsdag geld gevat en vir homself sy eerste vliegtuig gekoop, ’n Cessna Trainer.
“Ek het hom eers op die nabootserprogram gehammer tot ek gemaklik was dat hy sy eie vliegtuig kon vlieg. So het ek hom een Saterdag na die vliegveld geneem en sy vliegtuig vir hom opgestyg. Toe dit in die lug is, gee ek die afstandbeheerder oor aan hom en hy kon hom verbasend goed vlieg,” sê Kobus.
Hy sê dat Dillan nog hulp nodig het met die land en die opstyg van die vliegtuig, maar dat dit goed gaan en dat hy dit binnekort sal bemeester. “Sy nefie Hanro het ook ’n klein Cessna en hy vlieg saam met Dillan.”
Kobus sê dat hulle doel is om Dillan sover te kry dat hy die solo-toets aflê. “As hy kan solo gaan behoort hy die jongste vlieënier in Noordwes en Gauteng te wees sowel as in die Midwest Model vliegklub hier in Potchefstroom.”
Dillan gaan amper elke naweek saam met sy pa om hul vliegtuigies oor die vliegbaan te laat sweef. “Soms gaan ons selfs in die week, as die weer mooi is natuurlik,” sê Kobus. Hy sê dat dit vir hom ’n baie beter tydverdryf vir sy kind is as wat hy heeldag televisiespeletjies speel. Dillan het ’n bababoetie van sowat ‘n maand oud wat baie aandag van sy ouers verg. Kobus sê dat die tyd wat hy en Dillan saam spandeer aan hul vliegstokperdjie, vir hom baie spesiaal is want dit help dat Dillan nie voel dat al die fokus net op sy bababoetie is nie.
Dillan help ook sy pa om vliegtuigies en karretjies uitmekaar te haal en op te bou. Hy leer so baie van die basiese vorm van elektronika sowel as meganika. “Baie keer gee ek vir hom ’n skroewedraaier en vra dat hy die enjin moet uithaal,” sê Kobus.
Dillan sê hy wil eendag ’n ingenieur word sodat hy sy eie vliegtuie kan bou.

Related Articles

Back to top button