NewsNews

Ek was histeries,” sê skoolmeisie na sy byna ontvoer word

“Ek het heeltyd gedink hulle wil my verkrag.”

So vertel ’n matriekleerder van Gimmies nadat sy op 30 Maart omstreeks 15:00 in Dwarsstraat beroof en byna ontvoer is. Jani Reynolds (18) was op pad na haar ouma se huis toe ’n ligblou voertuig langs haar stilgehou het.

“Die bestuurder van die voertuig het my gevra of ek weet waar Dassierand is. Ek het gesê ek sal iemand bel wat kan help,” vertel sy. Omdat die drie insittendes van die voertuig vir Reynolds baie verdag gelyk het, het sy haar kêrel gebel.
“Ek het so half begin wegloop, maar een van hulle het uit die kar geklim. Hy het ’n groot mes in sy hand gehad,” vertel sy.
Die verdagte het die foon uit haar hand gegryp en haar daarna vasgedruk en probeer om haar in die motor dwing.
“Ek het begin skree en erg teenstand gebied. Die volgende oomblik het die man agter my gaan staan en die mes teen my keel gedruk,” vertel sy. Gelukkig vir haar het mense uit hulle woonstelle begin kom om te kom kyk wat se rumoer daar is.
“Hulle het my toe gelos en weggery,” vertel sy. Sy is na die voorval na haar kêrel se huis in Dwarsstraat. “Ek was histeries. Eers nadat ek bietjie kalmeer het, is ons polisie toe. Die ergste is dat dit nie eers gelyk het of die aanvallers bang is nie. Ek is baie dankbaar dat dit nie erger was nie. Ek glo nie die diefstal was die belangrikste motief vir die voorval nie, anders sou hulle die selfoon gevat en gevlug het,” vertel sy. Volgens haar het die manier hoe hulle gepraat het haar laat glo dat hulle buitelanders is. “Ek sal hom nie vergeet nie, dit was ’n baie groot ou, met ’n baard en oorbelle. Ek is nou baie meer veiligheidsbewus en ek vertrou niemand nie. As iemand wil weet waar ’n plek is, kan hulle Google Maps gebruik,” sê sy.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, word ’n saak van gewapende roof ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

 

 

Related Articles

Back to top button