NewsNews

Boodskap in dié bottels: Herwin glas soos die Greeffs!

Oupa leer kleinkinders ‘n les in herwinning

VAALPARK. – In die hedendaagse kitskos- en weggooikultuur is herwinning ‘n belangrike les wat vandag se kinders moet leer, al beteken dit jy moet ure, weke en maande saam met hulle in die veld deurbring en hulle wys hoe.

Dit is die standpunt van mnr. Ben Greeff van Vaalpark, wat die afgelope twee jaar saam met sy vlytige kleinkinders, Chané, Henroux, Ziné en Miki, sowat 9 000 leë glasbottels in die Vaalpark-omgewing opgetel het. Mnr. Greeff sê dit is nog al die jare opmerklik hoeveel glasbottels gereeld langs die paaie lê, selfs gedurende tye wanneer daar nie eens sosiale saamtrekke was nie.

Die meeste van die glasbottels het hy en sy jong spannetjie langs die oop oewer van die Vaalrivier naby Vaalpark opgetel. “Dit is jammer dat wanneer mense ‘n dag langs die rivier deurbring om te ontspan en te hengel, hulle die staanplekke so bemors met bottels – en dit juis by hierdie gebied, wat een van die laaste plekke is waar die publiek nog sonder toegangsbeheer langs die rivier kan uitkom. Morsjorse het nie die reg om dié plekke in so ‘n verwaarloosde toestand te los nie,” sê hy.

Glasbottels spoel ook gereeld vanuit die waterafvoerpype onder die strate uit na die vleiland noord van Vaalpark. Sommige mense wat in hul voertuie drink, gooi die leë bottels ook summier uit hul motorvensters na die sypaadjies en wandelpaaie. Dus is daar altyd glasstukke wat rondlê en ook opgetel moet word.

Die 9 000 bottels, wat enigiets van bier- en koeldrank- tot wynbottels in alle groottes en vorms insluit, is aanvanklik in groot gebruikte hondekossakke gestoor. Altesaam is 150 groot 25kg-sakke volgemaak en die hele area onder ‘n dubbelafdak volgestaan het. In Maart, twee jaar nadat Oupa Greeff en sy kleinkinders met die projek begin het, is herwinningsfirmas geskakel en twee groot “tipper bins” is volgemaak en weggery. Die totale massa herwinbare glas was 2 360 kg. Dit is sekerlik nie aldag dat soveel glas uit ‘n enkele individu se erf aangery word nie.

Mnr. Greeff se seun, Riaan, sê sy pa is beslis ‘n rolmodel vir die jongklomp. “Wanneer iemand na sy omgewing omsien, maak dit reeds ‘n verskil aan die ekologie en dit dra by tot die mooi in die samelewing. Ek glo ons kinders gaan die waarde hiervan besef. Almal kan ‘n verskil maak as hulle onthou dat glas 100% herwinbaar is om weer ‘n 100% nuwe produk te word,” sê hy.

Een van die vragte glasbottels wat deur die spannetjie versamel is.

Oupa Ben Greeff met sy flukse kleinkinders, Chané, Henroux, Ziné en Miki, wat saam-saam 2 360 kg se glasbottels en glasstukke in die Vaalpark-omgewing opgetel het.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button