NewsNews

Woede oor water

Terwyl rekordgetalle toeriste die afgelope twee weke Parys besoek het vir die dorp se eerste kunstefees, is inwoners van die dorp woedend oor krane wat bykans daagliks droog is, en die munisipaliteit se oënskynlike onvermoë om die probleem aan te spreek, en die publiek ingelig te hou oor die redes vir die knaende waterprobleme. Die probleme raak inwoners van Parys, Tumahole en Schonkenville.

Gereelde pyplekke veroorsaak dat die dorp se strate en sypaadjies omgedolwe word en gate meestal net so oop gelaat word vir weke, of dan slordig toegemaak word. Die skade aan die teer dra verder by tot die reeds ernstige verval van die dorp se teerstrate met hordes slaggate.
Inwoners in die omgewing van Derdelaan moet boonop sedert Desember verlede jaar verlief neem met droë krane klokslag elke oggend en aand. Hul vermoede dat dit dalk sabotasie met kleppe is, is al in ’n  skrywe aan die munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer, uitgewys, wat onderneem het om aandag aan die probleem te gee. Kort hierna was die probleem reggestel, maar die “aandag” was van korte duur en die krane weer droog.
In dieselfde omgewing is ’n waterlek op die h/v Vierdelaan en Delverstraat die naweek  reeds om 06:00 die oggend gerapporteer, maar is eers teen ongeveer 15:00 met herstelwerk begin. Die verskoning – ander pyplekke wat moes aandag kry.
Dinsdag moes inwoners weer sonder water klaarkom – dié keer ’n  waterpyp by die waterwerke.
Die gevolg van die knaende waterprobleme in die dorp is dat nog meer mense watertenks installeer, wat nóg druk op die straaltjies water in die krane plaas wanneer al die tenks moet vol loop.
Volgens rdl. Saal de Jager, is die situasie met vuil water wat eerder lyk soos koffie, en die knaende watertekorte in die dorp buite beheer, en het hy vandeesweek ’n versoek aan die munisipale bestuurder gerig om drukverlagingskleppe en lugkleppe te laat installeer om te probeer om die groot aantal pypbreuke te verminder.  Die vraag is egter of die voorstel oorweging sal kry?  Intussen word baie spandeer aan materiaal vir die herstelwerk en lang ure se oortyd en naweek arbeid om gebreekte pype te herstel. Laat staan nog die duisende liters water wat in die strate afloop wanneer kleppe oopgemaak moet word om die druk te verlig wanneer herstelwerk gedoen word. Omdat die kleppe nie behoorlik sluit nie, word groot gedeeltes geraak wanneer daar aan die pype gewerk word.
Ry jy die dorp binne, ploeg jy by die besige kruising van Loop- en Waterstraat deur die modderpappery waar al vir baie maande lank probeer word om ’n  pyplek te herstel.
Soos ook op die sypaadjie by Najaarsrus, in Schilbachstraat, in Oranjestraat en talle ander plekke in die dorp lê die oopgegroude gate net so met die stukkende teer, en stukke pyp en grond in die leivore. Selfs dromme en ander waarskuwingstekens by die gate word nie verwyder nie.
Gazette het by die Ngwathe munisipale woordvoerder, die tegniese bestuurder en die munisipale bestuurder navraag gedoen oor die dorp se knaende waterprobleme. Mnr. Steve Naale, Ngwathe woordvoerder, het in antwoord gesê dat die bestuurder vir water en sanitasie gevra is om die probleem te ondersoek en dat die munisipaliteit afgesien van die pyplek die naweek nie kennis dra van gereelde waterprobleme in die Derdelaan-omgewing nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button