HealthLifestyle

‘Ek wil my kind sien loop’

VANDERBIJLPARK. - Lené Pienaar (18) benodig dringend fondse om ’n operasie te ondergaan wat haar lewe aansienlik sal verander.

VANDERBIJLPARK. – Lené Pienaar (18) benodig dringend fondse om ’n operasie te ondergaan wat haar lewe aansienlik sal verander.

Lené is gebore toe sy slegs 28 weke oud was en het ’n skrale een kilogram geweeg. Toe sy twee maande oud was het dokters aartjies in haar ogies gebrand om sodoende te voorkom dat sy blind word, maar as gevolg van ’n suurstoftekort het sy breinskade opgedoen.

“Ek het agtergekom iets is verkeerd toe Lené op die ouderdom van een jaar nog nie kruip of loop nie,” sê haar ma Michelle. Michelle het Lené dokter toe geneem en na verskeie skanderings en toetse is Lené met spastiese diplegie (cerebral palsy) gediagnoseer. Een van die simptome van dié siekte is verhoogde spanning in die arm- en beenspiere. Die spiere raak gelyktydig aktief en belemmer gekoördineerde beweging. “Sy is dikwels stokstyf of spasties,” sê Michelle.

Michelle het navorsing oor die siekte begin doen en dokters het haar meegedeel dat hulle ’n operasie kan doen om die senings in Lené se knieë, enkels en heupe te verleng sodat sy kan loop. Die kostes vir dié operasie beloop egter tussen R180 000 en R250 000 en dan moet sy boonop nog spesiale skoene na die operasie dra wat haar knieë en enkels in die regte posisie sal hou.

Die skoene is dieselfde as wat kinders wat aan polio ly, dra en gaan Michelle sowat R16 000 per paar uit die sak jaag.
Buiten vir dié operasie sal sy eersdaags ook ’n lensinplanting in beide haar oë moet kry sodat haar sig kan verbeter en die koste verbonde aan die operasie wissel tussen R30 000 en R40 000 per oog.

Michelle het sedert Lené twee jaar oud geword het ’n trustfonds gestig, die Lené Hulpfonds, om fondse in te samel vir haar dogter. “Lené is my hart se punt en my grootste wens vir haar is om eendag te kan loop. Ek probeer my bes om haar lewe te vergemaklik,” sê Michelle.

Enige persoon wat belangstel om Michelle en Lené te help sodat sy die voorreg kan hê om te kan loop, kan die volgende bankbesonderhede gebruik: Die Lené Hulpfonds, ABSA Bank, rekeningnommer: 9068840352. Vir meer besonderhede kan Michelle by 082 720 3258 geskakel word.

Related Articles

Back to top button