HealthLifestyle

‘Dokters is my engele’

MEYERTON. - Na Leoné (54) en haar man, Kobus (50) slapelose nagte gehad het oor waar hulle fondse gaan kry vir dringende oogoperasies wat sy moet ondergaan, het drie dokters van die Ocumed Medical Centre in Vanderbijlpark tot hul redding gekom.

MEYERTON. – Na Leoné (54) en haar man, Kobus (50) slapelose nagte gehad het oor waar hulle fondse gaan kry vir dringende oogoperasies wat sy moet ondergaan, het drie dokters van die Ocumed Medical Centre in Vanderbijlpark tot hul redding gekom.

Leoné na die oogoperasies saam met haar man Kobus.
Leoné na die oogoperasies saam met haar man Kobus.

Vaalweekblad het gedurende April berig dat Leoné slegs 40 persent sig in haar regteroog en 20 persent sig in haar linkeroog het. As sy nie dringend ‘n operasie kon ondergaan om die katarakte te verwyder nie, sou die moontlikheid bestaan dat sy heeltemal blind kan word. Leoné het op 19 Mei die katarakte laat verwyder en die skade wat die diabetes aan haar oë aangerig het, is herstel. Beide oë is sommer op een dag gedoen. “Ek was bang, maar die personeel is so behulpsaam en verleen uitstekende bystand,” sê sy.

Dr. Robert Reed en dr. Johan de Lange het die fondse voorsien, terwyl dr. Lourens Coetzee die operasie uitgevoer het. “Ons is hulle ewig dankbaar. Na die berig in Vaalweekblad verskyn het, het hulle ons gekontak sodat Leone vir ‘n assessering kan kom en daarna is die datum vasgestel vir die operasie,” sê Kobus. Kobus en Leoné bedank die gemeenskap vir hul gebede en woorde van motivering. “’n Tannie het my gebel en gesê sy bid dat ‘n engel oor ons pad sal kom en haar gebed is verhoor,” sê Kobus. Leoné kon voor die operasie nie met haar bril die pryse op die rakke van ‘n supermark sien nie. Nou kan sy dit sonder haar bril doen.

“My sig is baie beter en ek is baie dankbaar,” sê sy. Die egpaar bedank drs. Reed, De Lange en Coetzee vir hul ongelooflike daad van goedhartigheid om Leone te help, asook Joey by Ocumed Medical Centre vir haar behulpsaamheid en vriendelikheid met die reëlings en Lynnette vir haar ondersteuning voor die operasie.

Related Articles

Back to top button