Sommige selfs opgedoilie in kleurvolle jassies, netrompies en selfs feetjievlerke. Hoe ookal – die ongelooflike pret en geesdrif waarmee daar vanoggend deelgeneem is aan ‘n eerste en baie unieke ArtDog stap deur Parys se strate waartydens elke hond sy pootafdruk op ‘n skilderdoek kon maak, het die weg gebaan vir ‘n eiesoortige kuns in hierdie kunstenaarsdorpie wat die afgelope naweek uit sy nate gebars het.
Mense wat van heinde en verre gekom het om te kon deelneem aan die dorp se eerste kunstefees wat nog tot 15 April duur. Oral langs die pad was daar snoephappies vir die honde en selfs pryse wat gewen kon word.
Die stap saam met die honde is so geniet dat deelnemers beslis nie haastig was om huistoe te gaan nie. Die skilderdoek sal nou deur kunstenaar Hennie Kruger onder hande geneem word wat dit sal verewig in ‘n skildery wat dié unieke gebeurtenis in Parys sal vasvang. Die inskrywingsgeld was ten bate van die DBV en die skilderdoek sal ook ten bate van die DBV opgeveil word.
Dankie aan al die organiseerders en borge vir ‘n skitterende en uitsonderlike geleentheid.
Maak seker jy beleef die kunste in Parys. Kyk op die webwerf www.parysartsfestival.co.za