NewsNews

Vaaldriehoek kry dalk eerste daggaparke

Dié plan kan armoede in die Vaaldriehoek uitwis


VEREENIGING. – Die Vaaldriehoek gaan dalk binnekort sy eie “daggaparke” hê, wat nie net werk aan baie inwoners sal verskaf nie, maar ook ‘n welkome inkomste vir die gebied kan bring. Dit gaan egter ‘n opoffering van inwoners verg want alle ontspanningsparke en onbeboude grondgebied in die distrik sal moontlik benut moet word om die projek te laat slaag.
Dié omstrede voorstel is tydens ‘n spesiale raadsvergadering deur die Sedibeng-distriksraad bekend gemaak.
Volgens die raad word daar net gewag op uitsluitsel met betrekking tot wetgewing wat die gebruik van dagga vir medisinale doeleindes wettig sal maak. Konsepwetgewing hieroor is reeds ‘n geruime tyd op die tafel en finale wetgewing word binne die volgende 4 tot 6 weke verwag.
Die raad sê in ‘n persverklaring wat laat gisteraand uitgereik is, dat die wettige lewering van dagga aan nasionale en internasionale farmaseutiese maatskappye wat die dagga in medisyne gaan omskep, ‘n welkome inkomste van miljarde rand per jaar vir Sedibeng en sy mense kan inbring. Die Vaaldriehoek se grond- en weersomstandighede is ideaal vir die kweek van dagga.
Die raad sê voorts dat weerstand van sekere kerk- en sosiale groepe verwag word, maar dat beswaarmakers die voordele van sulke daggaplase teen moontlike (maar onwaarskynlike) nadele moet opweeg.
“Daar is tans meer as 200 vierkante kilometer se parke, ander oop munisipale terrein en onbewerkte plaasgrond in die Sedibeng-distrik wat as daggaparke of -plase kan dien. Die werksgeleenthede wat dit aan duisende werkloses in die Vaaldriehoek gaan bied, is enorm. Die verbouing gaan baie arbeidsintensief wees en werkloses en hul gesinne sal elk ‘n blok van ‘n sekere aantal vierkante meter ontvang om as hul eie “daggatuine” te bewerk. Elke konsessiehouer sal op ‘n bepaalde tyd sy oes moet lewer, wat deeglik deur die raad geadministreer en aangeteken sal word. Indien ‘n konsessiehouer se oes aan die verlangde standaard voldoen, sal dit deur die raad na ‘n depot vervoer word en werkers sal dadelik per kilogram deur die raad vergoed word. Dagga van swak gehalte sal onmiddellik vernietig word,” lui die verklaring. Opgeleide, gewapende sekuriteitspersoneel sal aangestel word om die daggaplase teen diefstal deur daggasmokkelaars te beskerm.
Voordele van die plan is dat armoede in die Vaaldriehoek feitlik heeltemal uitgewis sal kan word, aangesien daggaboere ‘n baie ruim vergoeding gaan kry. Daar gaan ook meer as genoeg geld na plaaslike munisipaliteite invloei om alle slaggate te herstel en die streek se rioolstelsel ten volle te hernuwe.
Hoewel inwoners verskeie van hul groot parke soos Phoenix Park in Vanderbijlpark en Dickensonpark in Vereeniging vir die daggaboerdery sal moet opoffer, sal dit alle toekomstige onmin oor besoekers wat naweke partytjie in sulke parke hou, uitskakel omdat sulke terreine nie meer vir ontspanning beskikbaar gaan wees nie. Dit gaan toe wees onder dagga-gewasse en daar gaan net gewerk word. Werksaamhede sal tot weeksdae beperk word om die minimum ongerief vir inwoners te veroorsaak, sê die raad.
‘n Woordvoerder van die Fezile Dabi-distriksraad, wat Sasolburg en Vaalpark insluit, het bevestig dat ‘n soortgelyke plan hier geïmplementeer sal word as dit suksesvol is in Sedibeng. Verskeie daggaplante is reeds in sommige groenstroke in Sasolburg opgemerk, hoewel die raad sê dat hulle nie daarvan bewus is nie en dat dit nog nie deel van so ‘n amptelike plan vorm nie.
Sedibeng het reeds ‘n groot vrag daggasaad uit Suid-Amerika bestel, wat voorlopig net vir laboratoriumdoeleindes aangekoop is. Die eerste besending saad word vandag, 1 April, op Durban se hawe verwag.

‘n Oorsese daggaplaas, waar arm lande reeds ‘n groot inkomste uit die verbouing van dagga kry.

* Bostaande artikel is net ‘n April gekke grap

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button