NewsNews

NWU gaan eerste Afrika Positiewe Psigologie Konferensie aanbied

Die Noordwes-Universiteit (NWU), in samewerking met die Universiteit van Johannesburg, sal die eerste Afrika Positiewe Psigologie Konferensie op die NWU se kampus in Potchefstroom aanbied.

Die driedagkonferensie sal van 5 tot 7 April plaasvind en sal op 4 April deur voorkonferensiewerkswinkels en ‘n openingseremonie voorafgegaan word. Die konferensie sal deur die Raad vir Gesondheidsberoepe in Suid-Afrika vir VPO-punte geakkrediteer word.
Die geleentheid sal ’n groot getal rolspelers, insluitend navorsers, studente, praktisyns en ander belanghebbers wat by die bevordering van welstand en die verbetering van lewensgehalte betrokke is, byeenbring.
Die konferensie sal internasionale en nasionale kundigheid en ontwikkelings met navorsing en die praktyk in hierdie spesialisveld uitlig.
“Positiewe psigologie is ’n wetenskaplike dissipline wat welstand en lewensgehalte probeer verstaan en bevorder, ongeag die lewe se onvermydelike probleme, in uiteenlopende funksioneringsdomeine, soos werk, opvoeding, gemeenskap, ontspanning en interpersoonlike verhoudings,” verduidelik dr. Lusilda Schutte. Dr Schutte is ’n senior lektor en kliniese sielkundige by die NWU se Afrika-eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing (AUTHeR).
Die tema van die konferensie is “Embracing well-being in diverse contexts”.
Onderwerpe en studiegebiede wat ondersoek sal word, sluit in veerkragtigheid, positiewe verhoudings, positiewe opvoeding, positiewe organisasies, positiewe gemeenskappe en samelewings, die rol van die bevordering van welstand in mediese kontekste, konstruktiewe joernalistiek en volhoubare ontwikkeling van vrede.
Genooide sprekers uit verskillende lande soos Kenia, Ghana, Nigerië, Namibië, Suid-Afrika, Brasilië, Italië, Portugal, Denemarke, Ysland en die Tsjeggiese Republiek sal hulle kennis en ervarings deel. Kongresgangers sal van regoor die wêreld kom.
Kongresgangers uit Afrika en die res van die wêreld, met verskillende professies en agtergronde, sal hierdie konferensie na verwagting bywoon. Dit sal gesondheidsorgkundiges soos sielkundiges, mediese dokters, arbeidsterapeute, onderwysers, verpleegkundiges en maatskaplike werkers insluit, asook mense wat in organisasies werk, mense wat in gemeenskapsontwikkeling werk, joernaliste, ouers en individue met ’n persoonlike belangstelling in die veld.
Die konferensie beloof om ’n stimulerende gespreksruimte te bied vir beide akademici en praktisyns. “Ons hoop dat hierdie inisiatief ’n katalisator vir die bou van netwerke en volhoubare samewerking sal wees en sal bydra tot die groei van navorsing en die praktyk van positiewe psigologie,” sluit dr. Schutte af.
* Meer inligting en registrasiebesonderhede kan op die konferensiewebwerf, www.appc2018.org, gekry word. Belangstellendes kan ook vir Claries Roelofsz by claries@londocor.co.za of 011 954 5753 kontak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button