NewsNews

Genealoë word ingelig oor stories wat ougoed vertel

Dit wat ons van die geskiedenis weet, is danksy onder meer artefakte, geskrifte, dokumente en foto’s wat op een of ander wyse behoue gebly het en met die nodige insig vir die nageslag gedokumenteer is.

Miems Lamprecht, Kutuurhistorikus van die Potchefstroomse Museum, gaan Saterdag 7 April om 10:00 tydens die ledevergadering van die Noordwestak van die Genealogiese Genootskap van SA kom gesels oor die interessante stories wat in ou gebruiksartikels verweef is. Die titel van haar praatjie is: “Ougoed is onthougoed”. Die vergadering word by die Potchefstroomse Museum (h/v Sol Plaatjielaan en Wolmaransstraat) gehou. Aan die hand van ’n ou wakis uit 1 850, ’n stukkie van ’n gekwilte deken uit 1 830, ‘n kanonkoeël uit 1881 en vele meer, gaan sy vertel oor watter rol dié artefakte in die geskiedenis gespeel het en watter betekenis dit vir ’n bepaalde familie gehad het.
Miems is van mening dat sodanige voorwerpe die geheue van ’n volk is en ten alle koste gekoester en bewaar moet word.
Een van die voorwerpe wat sy gaan toelig, is ‘n kakebeenwa wat uit die Slag van Bloedrivier oorgebly het en tans by die Potchefstroomse Museum uitgestal word.
Watter interessante stories sou die wa nie self kon vertel nie?
Die unieke wa is in 1825 gebou en het aan ‘n ene Piet Swart(s) behoort. Met die einste wa het hy as lid van Piet Retief se Trek na Natal gereis. By Blauwkrans het die trekgroep ‘n kwaai aanval deur die Zoeloes oorleef. Piet Swarts was ook een van 464 manne wat met sy wa aan die Slag van Bloedrivier in 1838 deelgeneem het. Na die anneksasie van Natal in 1842 het Piet na die destydse Kaapkolonie teruggetrek.
Na sy vrou se dood het sy jongste seun, Jan Jacobus Francois Swarts die nuwe eienaar van die kakebeen geword. Die familie het in 1900 na Klipplaasdrif in die Ventersdorp-omgewing getrek.
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was die wa in ’n konsentrasiekamp op Potchefstroom, waar dit amper vir vuurmaakhout opgekap is. Na die oorlog wou die seuns die wa in twee saag om daarvan twee Skotse karre te maak. Gelukkig het die balju, mnr. Dawid Hoffman daarvan te hore gekom en dit aan Oom Boetie Jan Coetzee, ’n onderwyser van Potchefstroom genoem. Hy was juis op daardie stadium besig met ’n fondsinsamelingsprojek vir die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege (PUK).
Hy het die moontlikheid ingesien om die ou kakebeenwa as fokuspunt vir sy projek te gebruik. Hy het toe die kakebeenwa vir 2 pond gekoop. So het die wa die eiendom van die PUK geword. Toe oom Boetie Jan die eerste kurator van die Potchefstroomse Museum in 1960 geword het, het hy die kakebeenwa deel van die museum se versameling gemaak.
Almal is welkom om die vergadering by te woon. Vir meer inligting kan die voorsitter van die Noordwestak, Dirk Bloem by 083 644 6180 of Elmarie Weyers by 072 287 7994 gekontak word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button