NewsNews

Modeltreintjies vang die verbeelding vas van hulle wat die taal van treine praat

Op ysterspore snel hulle verby. Drie Susters en ’n Karoodorpie waar skape wei en ’n windpomp geduldig sy draai kry. Dan spoed dit verby die snelweg met sy besige verkeer, honderde liggies en straatligte as dit skemer word.

Verby ’n klein Engelse kroeg, kerke, die poskantoor, Big Ben en die Eiffeltoring, stasies en sinjale en die kasteel met sy koets en spierwit perde in gelid.
Een en twintig van hulle. Passasiers en goederetreine van die Trans Karoo, tot die Blou Trein en die ou Metro. Almal met oorleg gekies om te pas by die 1994-uitleg wat gebou is, en gepas vir elkeen van hierdie spore.
Elke huisie stuk-stuk aanmekaar gesit met piepklein vuurhoutjie-grootte mensies en groen tuine en parke.
Treine wat die spore volg van die verbeelding van Coen Else van Parys wat die afgelope drie jaar al aan die indrukwekkende spoorlyne met hul honderde elektriese drade bou.
Elke trein kan vorentoe- en agtertoe beweeg, en al wat nou nog kortkom is 30 straatligte en so bietjie gras hier en daar.
Die tuine is eintlik sy vrou, Rina, se werk en die kasteel is hare, vertel Coen trots wanneer hy gesels oor hul handewerk. Jy kry hom dikwels 05:00 al aan die werk en lank na donker eers skakel hy die ligte af.
Coen vertel dat die treingogga agt jaar gelede gebyt het. Hy was in die granietbedryf en het sy eie onderneming bestuur. Later is dié verkoop en is hy deur die HTG Groep ’n pos in Engeland aangebied, waar hy vir 20 jaar lank gewerk het.
Sy huis in Durbanville het hy gehou in die tyd wat hy in Engeland was, en as ’n  dankie-sê gebaar treintjies vir die man gebring wat na hul huis omgesien het.
Die man was ook ’n modeltrein-entoesias en kort voor lank was Coen self aan die bou met die modeltreine en uitlegte van dorpe en stasies. Van die treintjies het hy uit Engeland gebring, maar mettertyd is hulle geruil vir Suid-Afrikaanse treine op sy spore. Gedurigdeur word daar gekoop, verkoop en geruil onder die modeltrein-versamelaars.
Dis groot werk is die bouery. Eers moet die bord reggekry word. Dan word die spore uitgewerk en gebou. Dan kom die dorpies met talle geboue. Soms word van ’n  foto af gebou, maar dikwels is dit net verbeelding wat die planne maak.
Die elektriese werk verg vaardigheid en verander die skakelaars op sy plan omtrent 40 sinjale met die kontroles wat die treine vorentoe en agtertoe laat beweeg.
Coen vertel dat die Engelse baie ernstig is oor modeltreine, met van hulle wat kilometers ver ry vir veilings om van die modeltreine te koop.
Maar dis nie net vir treine koop en versamel nie. Elke treintjie op jou spoor moet gereeld gediens en geolie word, wiele en rubbertjies skoongemaak en vervang word – want hierdie treintjie-liefde word ’n deel van jou wat in elke spoor en treintjie, by elke stasie, en met elke sinjaal, ’n taal praat van hulle wat die taal van treine verstaan.

Trein-entoesiaste is welkom om Coen te skakel by 063 078 3742.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button