NewsNews

Gesonde tande kan jou hond langer laat leef

Honde wat se tande gereeld geborsel en versorg word, het oor die algemeen ’n baie langer lewensverwagting as ander honde. Die meeste troeteldiereienaars wil hê hul honde moet ’n lang en gelukkige lewe leef, maar besef nie dat deur slegs na jou hond se tande om te sien, jy kan keer dat die hond verskeie gesondheidstoestande opdoen.

Nie baie mense weet dat hulle veronderstel is om na hul honde se tande om te sien nie. Dit is die siening van ‘n Potchefstroomse veearts, dr. Douw van der Nest, wat onlangs weer ’n hond met slegte tande moes behandel.
’n Hond se tande moet gereeld geborsel word, en die hond moet van die ouderdom van vier jaar oud ten minste elke twee jaar ’n veearts besoek om sy tande te laat skoonmaak.
Nie net sorg dit dat die hond se asem beter ruik nie, maar dit help ook om plaak te voorkom, wat later kan lei tot nierprobleme en hartversaking.
Dr. Van der Nest het verduidelik dat sodra ’n hond kroniese tandvleisontsteking kry, lyk die tandvleis rooier en ook meer verhewe bo die tande. Erge ontsteking veroorsaak ook ’n verlies aan tandvleis, wat dan die tandwortel ontbloot. Aangesien die tandwortel, anders as die kroon self, geen emalje laag oor het nie, groei plaak makliker daaraan, en veroorsaak dit verdere erosie van die tandvleis.
’n Hond met tandvleisontsteking het ook opmerkbare slegte asem. “Die slegte asem belemmer sy verhouding met die mens en mense wil dan nie meer hê hulle honde moet naby hulle kom nie,” sê dr. Van der Nest.
Verder veroorsaak seer tandvleis dat die hond eerder sagte kos eet, maar dit versnel net die probleem nog meer en veroorsaak dat die hond moeilik eet.
Tandvleisontsteking veroorsaak ook gedragsveranderinge soos teruggetrokkenheid, iesegrimmigheid en aggressie wanneer die hond aangeraak word.
Volgens dr. Van der Nest is die grootste oorsaak van sterftes by ou honde en katte kroniese nierversaking, en die kanse daarvoor is veel groter as die hond slegte tande het. Wanneer ’n troeteldier nierinfeksie het, het hulle vir weke lank pyn in hul niere en kroniese nierversaking veroorsaak oor ’n lang tydperk ’n siek gevoel, lusteloosheid en depressie.
Volgens dr. Van der Nest is die simptome nie baie opvallend nie.
“Troeteldiere leef totaal vir hul eienaars. Hulle sien u dalk vir ’n oomblik, dit maak hul dag en die stert swaai, maar dalk is daar ’n ondraaglike tandpyn en diep seer niere,” sê dr. Van der Nest. Troeteldier tandepasta kan by die meeste veeartse gekoop word en dr. Van der Nest moedig mense aan om hul troeteldiere na ’n veearts te neem om na hul tande om te sien

Related Articles

Back to top button