Entertainment

Jakkie Louw sing vir gestremde seun

Die bekende kunstenaar Jakkie Louw, tree op Donderdag 3 Mei in Potchefstroom op ten bate van die gestremde tiener, Shaun Beyers.

Jakkie Louw. Foto: Facebook

Jakkie Louw. Foto: Facebook

 

Shaun (16) is as baba gediagnoseer as serebraal verlam en verstandelik gestrem. In Mei 2015 het Shaun ’n operasie ondergaan wat hom in staat gestel het om vir die eerste keer in sy lewe regop te kan sit.

Shaun Beyers (middel) saam met sy ouers Louis en Adri Labuschagne.

Shaun Beyers (middel) saam met sy ouers Louis en Adri Labuschagne.

Sy ouers, Louis en Adri Labuschagne, het nooit gedink dat Shaun ooit sou kon loop nie. In 2015 het die Round Table 47 Potchefstroom genoeg geld tydens hul jaarlikse Craft Beer Festival ingesamel om vir Shaun ’n loopraam te kan koop. Dié EZ Walker help mense om te leer loop en nou, na minder as twee jaar, kan Shaun al met die hulp van sy ouers in ’n gewone loopraam loop.

Shaun het egter nog baie oefening nodig en sy beenspiere is nog veels te swak om op sy eie te loop, daarom moet hy rehabilitasie kry.

Adri, ’n karwag in Potchefstroom, sê dat die rehabilitasie baie duur is en dat hulle gesin dit nie op hul eie sal kan bekostig nie, maar dat dit Shaun se enigste hoop is om eendag self te kan loop.

Gelukkig het Shaun se paaie verlede jaar met die sanger Jakkie Louw gekruis en daar het sy ma gehoor dat dié kunstenaar elke jaar ’n paar optredes vir liefdadigheid doen.

Shaun se ouers help hom om met sy loopraam te loop. Foto’s: Marianke Saayman

Shaun se ouers help hom om met sy loopraam te loop. Foto’s: Marianke Saayman

Jakkie is bereid om ’n optrede vir Shaun in Potchefstroom te hou, mits Adri minstens 200 kaartjies kan verkoop.
As genoeg kaartjies verkoop word, sal Jakkie op 3 Mei om 18:30 by die Elgro Hotel optree. Kaartjies kos R100 vir volwassenes en R70 vir kinders en die geld wat ingesamel word, sal dan aan Shaun se rehabilitasie bestee word.
Om kaartjies te koop skakel Adri by 078 154 7644.

 

Related Articles

Back to top button