Die skokonthulling is die naweek gemaak in ’n nadraai van die Cambridge Analytica-skandaal waarna Facebook-gebruikers begin het om hul sogenaamde Facebook argiewe af te laai.
Die minder aangename ontdekking vir sommige Android-gebruikers wat dié zip-argieflêers afgelaai het, was gedetailleerde verslae van selfoonoproepe met selfs glo die datums en tyd wat die oproep geduur het, met wie gepraat is en hul telefoonnommers. Dit sluit alle oproepe in wat op die toestel gemaak is en nie net oproepe op die Facebook-platform nie word gesê.
Die inligting is ook glo net op Android-toestelle versamel en ook net waar die gebruiker pertinent maar bes moontlik onwetend toestemming hiervoor gegee het.
Netwerk 24 berig dat Facebook in sy kommentaar gesê het die insameling van data oor oproepe en boodskappe is gebruikers van Messenger of Facebook Lite op Android, se eie keuse en word onder andere gebruik om nuwe vriende op Facebook voor te stel.
Maatreëls vir die insameling van data is in nuwer weergawes van Android-bedryfstelsels heelwat versterk, maar dit wil lyk asof dit nie applikasies beïnvloed het wat vroeër al toegang tot gebruikers se kontaklyste gegee het nie.
Netwerk 24 berig dat Facebook gesê het hy onder geen omstandighede die data verkoop wat hy insamel nie, en nie kennis dra van die inhoud van gebruikers se SMSe nie, of selfs opnames van oproepe maak nie.
Die maatskappy meen gebruikers is steeds in beheer van die inligting wat op Facebook gedeel word.
Sheryl Sandberg, Facebook se bedryfshoof, het gesê hulle is ten gunste daarvan dat die platform beter reguleer word om die vertrouensbreuk te herstel.
Dit volg nadat Facebook die naweek al ’n volblad-advertensies in verskeie vooraanstaande Amerikaanse Brise koerante laat plaas het waarin sy uitvoerende hoof, Mark Zuckerberg, persoonlik verskoning vra vir die privaatheidskandaal.
Bron: Netwerk 24



