NewsNews

Ingenieurswese is nie net vir mans

“Ek was een van daardie kinders wat nooit kon sê wat ek eendag wou word nie. Selfs die aanleg- en belangstellingstoetse het telkens gewys dat ek eintlik maar enige beroep kon kies,” sê prof. Liezl van Dyk, wat onlangs aangestel is as die nuwe dekaan vir die Fakulteit Ingenieurswese aan die NWU se Potchefstroomkampus.

 

Ingenieurswese is ’n beroep wat nie gewoonlik met vroue geassosieer word nie, maar Van Dyk sê dat dit egter nie beteken dat dit ’n beroep is wat net vir mans bedoel is nie. Haar belangstelling in ingenieurswese het gespruit vanaf haar liefde vir wiskunde wat deur middel van speletjies en ander uitdagings in haar ouerhuis wakker gemaak is. Daarna het haar graad sewe wiskunde onderwyser haar liefde vir wiskunde net meer versterk deur haar opgewonde te maak oor al die deure wat dié vak vir ’n mens kan oopmaak.

“Dit was my pa wat aan die einde van my hoërskool-loopbaan my aangemoedig het om meer uit te vind oor bedryfsingenieurswese omdat hy dink dit dalk ’n beroepsrigting is wat my sal pas. Ek het toe ’n ingenieur-skoleweek by die universiteit bygewoon, en besef hy was reg.

“Ek is van daardie oomblik af, tot nou toe nog ongelooflik in my noppies met my beroepskeuse,” sê sy.

Nou streef sy daarna om ander jong meisies se liefde vir ingenieurswese ook te help kweek, aangesien ongeveer een uit elke ses studente by die fakulteit, vroulik is. “Daar is beslis ’n geslagstereotipering dat ingenieurswese eerder ’n mansberoep is en daar is ongetwyfeld meer mans in hierdie beroep as vroue.” Sy sê in die ingenieursraad is slegs 15% van die professionele ingenieurs vroulik.

Volgens Van Dyk kom hierdie reeds van historiese persepsies en stereotipes asook verskillende belangstellings.

“Seuntjies speel met karre, hulle moet ingenieurs word. Dogtertjies speel hospitaal-hospitaal so hulle moet verpleegsters word, maar as daardie dogtertjie die hospitaaluitleg verander om die pasiëntevloei en benutting van hulpbronne te optimeer, word dit nie raakgesien dat sy eintlik ’n ingenieur is nie,” sê sy.

Sy sê dat haar 11-jarige seun, wat ook ’n ingenieur wil word, baie trots is op sy ingenieur-ma en vertel graag vir sy maats.
“My 14-jarige meisiekind het ’n heel ander belangstelling as ek en wil nie ’n ingenieur word nie, maar sy weet sy hoef haar nie te laat beperk deur stereotipes en vooropgestelde idees nie.”

Van Dyk het dit haar missie gemaak om meer meisies geïnteresseerd te kry in ingenieurswese met die Femm- egineering werkswinkel geborg deur MerSETA, wat op 24 Maart vir die derde jaar aangebied word. “Daar is twee dinge wat ons daardie dag wil oordra: inligting en inspirasie,” sê sy.

Vroulike personeel van die Fakulteit Ingenieurswese, alumni, meisiestudente asook ingenieursvroue uit die industrie is by hierdie werkswinkel betrokke. Die oggend bestaan uit ingenieurskooltipe speletjies en aktiwiteite om skooldogters meer te leer van die verskillende ingenieursdissiplines wat by die NWU aangebied word (Bedryfs, Chemies, Meganies, Elektromeganies, Elektronies, Elektries en Rekenaaringenieurswese).

“Die namiddag en aand is vir inspirasie en sommer net pret. Ons meisie-studente modelleer matriekafskeidrokke en ingenieursvroue vertel hul inspirerende verhale terwyl ons die aand geniet.”

Daar is nog ‘n paar uitnodigings beskikbaar vir die Femmegineering werkswinkel wat op 24 Maart in Potchefstroom aangebied word. Om te kwalifiseer vir ’n uitnodiging stuur jou mees onlangse puntestaat/rapport na Bianca.Blomerus@gmail.com nie later as Maandag 19 Maart nie.

Slegs graad 11- en 12 dogters met Wiskunde en Fisiese Wetenskap as vak kan kwalifiseer vir ’n uitnodiging.

Related Articles

Back to top button