NewsNews

Boelie kan lei tot kinder-selfmoord

Navorsing wat deur die Potchefstroomse sielkundige, prof. Pieter Joubert gedoen is, toon dat 35% van selfmoordgevalle wat in Suid-Afrika voorkom, kinders van onder die ouderdom van 16 jaar is. Hy sê verder dat daar tussen 22 en 28 selfmoorde per dag plaasvind en dat selfmoord in die afgelope 10 jaar met 48% toegeneem het. Benewens… …

Kinderselfmoord is 'n groot probleem in Suid-AFrika. Foto: TriBeCa Care

Kinderselfmoord is ‘n groot probleem in Suid-AFrika. Foto: TriBeCa Care

Navorsing wat deur die Potchefstroomse sielkundige, prof. Pieter Joubert gedoen is, toon dat 35% van selfmoordgevalle wat in Suid-Afrika voorkom, kinders van onder die ouderdom van 16 jaar is.

Hy sê verder dat daar tussen 22 en 28 selfmoorde per dag plaasvind en dat selfmoord in die afgelope 10 jaar met 48% toegeneem het.
Benewens die feit dat sowat 67% van alle Suid-Afrikaanse kinders in enkelouer huishoudings grootword, het boeliegedrag by skole ook ’n groot aandeel tot kinderselfmoord in Suid-Afrika. Prof. Joubert haal navorsing aan wat in 2012 deur Unisa gedoen is oor boeliegedrag by skole. 3 371 leerders was deel van die navorsing.

Hy sê dat 38,4% van die kinders slagoffers is van fisieke boeliegedrag, 55,3% is slagoffers van emosionele treitering en 16,9% is slagoffers van treitering deur sosiale media soos Facebook, WhatsApp en Twitter.

Verdere resultate toon dat 32,2% van die kinders tydens skooltyd in die klaskamers geboelie word en 29,3% na skool geboelie word.

“Ouers moet met die skool praat as hulle vermoed hul kind word geboelie,” sê Joubert.

Volgens Artikel 14 van die Kinderwet het enige kind die reg om ’n saak van boeliegedrag na die hof te neem. Artikel 60 stipuleer dat ’n skool verantwoordelik gehou kan word vir skade wat aan ’n kind gerig is tydens ’n boelie-voorval by die betrokke skool, indien die skool daarvan in kennis gestel is en nie daarteen opgetree het nie.

“Dit is wel nie die skool se verantwoordelikheid om vir ’n kind selfdissipline te leer nie, dit is die ouers se verantwoordelikheid.
Goeie maniere moet by die huis geleer word,” sê prof. Joubert. “Kinders weet hoe om te manipuleer en wil soms hul brood aan albei kante gebotter hê, daarom moet daar grense wees. Jy doen nie jou kind ’n guns om vir hom vrye teuels te gee nie, jy doen hom eintlik ’n onreg aan,” sê hy. “Selfdissipline is die hoogste vorm van vryheid.

“Kinders wat by die skool geboelie word, lei soms tot depressie en selfs selfmoord. Dit is belangrik dat ouers weet hoe om die waarskuwingstekens raak te sien.

Tekens van kinderdepressie sluit in:

•As ’n kind homself toenemend sosiaal onttrek.
•As ’n kind nie meer spontaan kommunikeer nie.
•Wanneer ’n kind gemoedswaaie soos woede en emosionele uitbarstings ondervind.
•Wanneer ’n kind aggressiewe gedrag toon.
•Wanneer ’n kind hul jonger boetie of sussie of selfs troeteldiere begin afknou.
•’n Regressie van gedrag soos laerskoolkinders wat skielik weer bed begin natmaak.

Nog ’n probleem wat volgens prof. Joubert bydra tot depressie onder kinders, is die feit dat mense nie meer by die huis met mekaar praat nie en dat ouers nie meer kwaliteit tyd saam met hul kinders spandeer nie.

“’n Kind wil weet jy het tyd vir hom en hy tel vinnig op as jy nie werklik vir hom wil luister nie.
Kinders kry nie meer kans om hul probleme met hul ouers te bespreek nie, so dan begin hul portuurgroep hul dade bepaal aangesien hulle nie ouerlike leiding kry nie,” sê hy.

Hy sê dit is ook belangrik dat ouers nie hulself moet blameer vir hul kinders se dade nie.

“Jy kan net verantwoordelikheid neem vir dit waaroor jy beheer het, en jy het net beheer oor jouself.” Hy sê dat hierdie veral toepaslik is op hoërskoolkinders.

“Jy kan jou kind waardes leer en riglyne gee, maar enige intelligente hoërskoolkind weet wat reg of verkeerd is.”
Prof. Joubert sê dat hy geweldige simpatie en deernis het vir ouers omdat dit baie moeilik is om kinders in vandag se besige en gejaagde lewe groot te maak.

Related Articles

Back to top button