NewsNews

Angs-oomblikke voor sekretaresse se dood – leerlinge het haar dood beplan

’n Vonnis kan nie die elke dag se verlange wegvat nie. Dit genees nie seer nie. Bring nie berusting nie. Veral nie as jou kind so skielik van jou weggeneem is en ’n gat in jou hele menswees geruk het. Dit laat jou verslae, want die leemte wat Esbé se dood in haar ouers se …

’n Vonnis kan nie die elke dag se verlange wegvat nie. Dit genees nie seer nie. Bring nie berusting nie. Veral nie as jou kind so skielik van jou weggeneem is en ’n gat in jou hele menswees geruk het. Dit laat jou verslae, want die leemte wat Esbé se dood in haar ouers se harte, en die harte van haar broer en suster gelaat het, sal nooit weer kan heel nie.
Nou, meer as ’n  jaar nadat Esbé Koster, dogter van Louis en Hettie van Zyl van Parys,  se liggaam langs die ou Lethlabile-pad naby Brits gekry is, sal een van haar moordenaars uiteindelik vir die gru-daad gestraf word. Maar al is die hoofstuk so te sê afgesluit, het die hofverrigtinge na daardie dag in 2016 weer rou, seer wonde oopgekrap.
Tydens die verhoor het die tragedie wat hom op die dag van die moord in November 2016 afgespeel het, opnuut weer afgespeel voor hierdie ouerpaar. Uit ’n pleitverduideliking is gelees hoe een van die die beskuldigdes die sleutels van die kluis by sy ouers se huis sonder toestemming gevat het en toe sy pa se pistool gesteel het. Die twee het besluit om dié dag iemand te beroof en was die vuurwapen in een se skooltas. Ná skool het hulle Esbé, destydse sekretaresse van die Rabboni Christian School in Brits waar hulle leerlinge was, by haar motor ingewag en vir ’n saamrygeleentheid dorp toe gevra, wat sy vir hulle gegee het. Een het agter gaan sit en die ander op die passasiersitplek. In die ry het een die vuurwapen op Esbé gerig en haar aangesê waarheen sy moet ry. Op die ou Lethabile-pad moes sy stilhou en is sy met maskeerband vasgebind. Toe sy probeer om die vuurwapen wat die hele tyd op haar gerig was af te vat, is sy twee keer in die kop geskiet. Haar liggaam is langs die pad gelos en hulle het met haar VW Citi Golf waarin haar skootrekenaar onder meer was, die toneel verlaat. Haar voertuig is later deur die polisie by een van die beskuldigdes se bure gekry waar hy dit gelaat het.
Hettie het Esbé die dag van haar dood ’n  paar keer probeer bel en het onraad vermoed toe Esbé nie haar selfoon geantwoord het nie. Sy en haar ouers het daagliks kontak gehad wanneer sy gebel het om te hoor hoe dit met hul gaan.
Die Van Zyl-egpaar het die aand eers die bykans ongelooflike en harde waarheid van Esbé se dood gehoor.
Esbé is op haar 29ste troudagherdenking in die ouderdom van 50 jaar begrawe.  Beskuldigde 1 is verlede week in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind aan die ses aanklagte teen hom en sal op 22 Maart voor regter Bert Bam verskyn vir vonnisoplegging. Hy bly in aanhouding tot dan.
Die tweede beskuldigde het intussen skuld op al die aanklagte teen hom ontken en moet weer op 18 Junie in die hooggeregshof verskyn. Sy borgtog is verleng tot die volgende hofverskyning. Die beskuldigdes was minderjarig ten tyde van die moord en hul name word dus weerhou. Hulle word aangekla van moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, die onwettige besit van ’n vuurwapen en onwettige besit van ammunisie. Beskuldigde 1 is naas dié klagtes ook van diefstal aangekla.

Related Articles

Back to top button