NewsNews

Eskomskuld: ‘Ngwathe hou by reëlings’

Volgens Ngwathe burgemeester Joey Mochela, is daar ’n ooreenkoms met Eskom oor Ngwathe se agterstallige skuld aan die kragreus, en hou Ngwathe hom tot dusver daarby. Só is die spesiale taakspan wat byeen geroep is oor die Eskomskuld, verlede Vrydag ingelig. Die taakspan het op aandrang van twee opposisielede vergader nadat dit maande lank onaktief …

Volgens Ngwathe burgemeester Joey Mochela, is daar ’n ooreenkoms met Eskom oor Ngwathe se agterstallige skuld aan die kragreus, en hou Ngwathe hom tot dusver daarby. Só is die spesiale taakspan wat byeen geroep is oor die Eskomskuld, verlede Vrydag ingelig.
Die taakspan het op aandrang van twee opposisielede vergader nadat dit maande lank onaktief was. Die laaste vergadering was ses maande gelede.
Mochela het meer as ’n jaar gelede die veelparty-taakspan benoem om die Eskomkrisis te beredder. Sy is die voorsitter en daar is vyf ander raadslede. DA-raadslid Arnold Schoonwinkel, een van die opposisielede op die taakspan, sê hy was bang Eskom dreig weer om elektriese kragvoorsiening te onderbreek as gevolg van wanbetaling. Ngwathe skuld Eskom al meer as R900m.
Hy en rdl. Phillip van der Merwe (VF+), die ander opposisieraadslid op die taakspan, het die burgemeester toe versoek dat die taakspan dringend moet vergader, en daarna gereeld. Die taakspan sou vandeesweek weer vergader.
Mnr. Bruce Kannemeyer, munisipale bestuurder vir Ngwathe, het aan die taakspan bevestig dat ‘n afbetaalreëling met Eskom bestaan, en dat Ngwathe hom streng daarby hou. Volgens hom het senior bestuur nou bedryfsplanne opgestel om die skuldkrisis te ontlont, en uiteindelik op te los.
Die planne sou blykbaar na goedkeuring deur die uitvoerende komitee en raad, onmiddellik in werking tree.
“Mnr. Kannemeyer het ons vertel van verskeie nuwe inisiatiewe, soos sonkrag om te help voorkom dat Eskom sy straftariewe vir kragverbruik bokant sekere maksima hef,” sê rdl. Schoonwinkel. Hy sê dat daar egter nie ‘n volledige verslag was nie, en dat talle vrae nie beantwoord is nie. “Ons hoor jare lank al mooi planne oor Ngwathe se Eskomskuld, maar die skuld hou net aan styg.”
Ook rdl. Van der Merwe het gekla dat die taakspan swak ingelig is oor die huidige probleem en oor die vordering met die oplossings.
Hy wou weet watter band die Gupta-familie het met elektrisiteitsverspreiding in Ngwathe. Burgemeester Mochela het hierop gesê sy weet van geen sodanige band nie, waarop Van der Merwe haar verseker het só ‘n band is klaarblyklik pas ontbloot in die hoë hof in Pretoria.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button