NewsNews

Verdagtes bied ma glo geld aan om dogter (10) te koop

Beangste ma en dogtertjie kruip in winkel se stoorkamer weg na mans se agtervolging deur die winkelsentrum Illustrasiefoto Eerste Publikasie: Vaalweekblad 14 Februarie 2018 Retha Fitchat VANDERBIJLPARK. – Gerugte van misdadigers wat kinders of vroue in Suid-Afrikaanse winkelsentra probeer koop of ontvoer, is die afgelope jare reeds gereeld op sosiale media gedeel. Die meeste van …

Illustrasiefoto

Eerste Publikasie: Vaalweekblad 14 Februarie 2018

Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – Gerugte van misdadigers wat kinders of vroue in Suid-Afrikaanse winkelsentra probeer koop of ontvoer, is die afgelope jare reeds gereeld op sosiale media gedeel. Die meeste van dié gerugte het na ‘n ondersoek vals geblyk te wees, maar ‘n plaaslike ouma is daarvan oortuig dat mans vroeër die maand probeer het om haar 10-jarige kleindogter in ‘n plaaslike winkelsentrum te ontvoer.

Die ouma, wie se identiteit weerhou word om die kind se veiligheid te beskerm, sê haar dogter en kleindogter het die betrokke Vrydag inkopies in Vaal Mall gedoen toe twee mans geld aan haar dogter aangebied het om haar kind te koop.“My dogter het ‘n besliste ‘nee’ gesê, maar die twee mans het kru woorde gebruik en was daarna kwaad en snedig, en het my dogter en kleindogter agtergevolg,” sê sy.

Haar beangste dogter en kleinkind het by die eerste die beste winkel ingespring, waar hulle die winkelpersoneel oor die voorval ingelig het.

Die winkelbestuurder het hulle gekalmeer en in ‘n stoorkamer laat wegkruip. Sy het haar personeel opdrag gegee om dadelik na die mans te begin soek, maar die twee het skynbaar toe reeds gevlug. Die winkelbestuurder het ook die sentrumsekuriteit ontbied, wat geen spoor van die verdagtes kon vind nie en die ontstelde vrou en dogtertjie veilig na hul motor in die parkeerterrein begelei het.

Die ouma sê sy deel die gebeurtenis nie om mense bang te maak nie, maar om hulle te waarsku om versigtig te wees. “Ons kinders, dogters sowel as seuns, is nêrens meer veilig nie. Maak hulle bewus daarvan om paraat te wees,” sê sy. Me. Carla de Villiers, streeksbemarkingsbestuurder by Vaal Mall, het by navraag gesê die publiek kan verseker wees dat inkopiegangers se veiligheid die sentrum se topprioriteit is. Senior sekuriteitspersoneel is deurentyd in die sentrum en op die perseel teenwoordig, en bykomende rugsteun op hoofkantoorvlak is ook altyd beskikbaar.

‘n Plaaslike privaatspeurder wat anoniem wil bly, sê die publiek moet altyd op hul hoede wees waar dit by die veiligheid van hul kinders kom, maar dat mense ook moet onderskei tussen ‘n “siek grap” en ‘n werklike gevaar. Hy betwyfel dit of die mans wat die aanbod gemaak het om die dogtertjie te koop, ernstig was.

“Mense met kwade bedoelings wat regtig ‘n kind wil koop of ontvoer, gaan so ‘n transaksie of misdaad nie in die openbaar tussen ‘n klomp ooggetuies, sekuriteitspersoneel en met veelvuldige sekuriteitskameras probeer uitvoer nie. Indien die voorval wel plaasgevind het soos wat die ouma vertel, het die verdagtes waarskynlik ‘n onvanpaste grap gemaak of die moeder met opset probeer ontstel.

“Die ma het reg opgetree deur dadelik saam met haar dogtertjie by ‘n winkel in te gaan en die personeel oor die voorval in te lig, want hulle weet wat om in sulke omstandighede te doen.

“Dit is jammer dat die verdagtes nie opgespoor of vasgetrek is nie, maar ek glo Vaal Mall se geslotekring televisiestelsel sal duidelik kan bepaal of die mans werklik daar was en die ma en dogtertjie agtervolg het,” sê hy.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button