NewsNews

Besluit om DBV-befondsing te staak kortsigtig

Die besluit van die Nasionale Loterykommissie om nie meer geld aan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) te gee nie is kortsigtig en jammer, en gaan groot dierelyding in veral die minder gegoede en afgeleë gemeenskappe veroorsaak.   Die DBV het pas in ʼn verklaring aangekondig dat hy deur hierdie besluit gedwing sal word om die gratis dienste …

Die besluit van die Nasionale Loterykommissie om nie meer geld aan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) te gee nie is kortsigtig en jammer, en gaan groot dierelyding in veral die minder gegoede en afgeleë gemeenskappe veroorsaak.

 

Die DBV het pas in ʼn verklaring aangekondig dat hy deur hierdie besluit gedwing sal word om die gratis dienste wat in ‘arm gemeenskappe’ gelewer is, drasties in te kort.

 

Volgens die DBV is daar veral ‘n dwingende nood om hulp te verleen aan werkdiere soos donkies, perde en beeste wat juis in afgeleë gebiede vir werk en vervoer gebruik word. Dié belangrike diens word reeds die afgelope 62 jaar gelewer en sal nou moontlik gestaak moet word indien ander befondsing nie bekom word nie.

 

Die Kommissie het laat blyk dat die fokus van befondsingprojekte verskuif het en dat daar voortaan op ‘armoedeverligting’ gefokus gaan word.

 

Die parlementêre portefeuljekomitee vir handel en nywerheid het oorsig oor die Loterykommissie, en die VF Plus sal dié aangeleentheid gewis op die agenda plaas met ʼn versoek aan die voorsitter om die besluit van die kommissie te laat herroep.

 

Die beskawingspeil van ʼn gemeenskap kan direk gemeet word aan die wyse waarop hy sy diere behandel. Liefde tussen mens en dier en die versorging van die diere het ʼn helende effek op ʼn gemeenskap.

 

Albert Schweitzer het gesê as jy nie deernis vir alle lewende wesens het nie, sal jy nooit innerlike geluk ervaar nie. ʼn Gemeenskap wat sy kop wegdraai van diere se lyding sal inderdaad ʼn siek en stukkende gemeenskap wees.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button