VS regering se openingsrede onbepaald uitgestel
Die Vrystaat regering se openingsrede wat Dinsdag 20 Februarie by die AfriDome in Parys gehou sou word, is nou onbepaald uitgestel. Dit is Dinsdagmiddag laat aangekondig kort voordat president Jacob Zuma Woensdag 14 Februarie uit sy pos as president bedank het. Verlede week het die Vryheidsfront Plus reeds hul kommer uitgespreek dat hulle verwag die …
Die Vrystaat regering se openingsrede wat Dinsdag 20 Februarie by die AfriDome in Parys gehou sou word, is nou onbepaald uitgestel. Dit is Dinsdagmiddag laat aangekondig kort voordat president Jacob Zuma Woensdag 14 Februarie uit sy pos as president bedank het.
Verlede week het die Vryheidsfront Plus reeds hul kommer uitgespreek dat hulle verwag die openingsrede glo die belastingbetaler miljoene sal kos vir wat hulle meen eintlik ’n afskeidspartytjie vir die Vrystaatse premier, Ace Magashule, sal wees, wat nou die pos as die ANC se sekretaris-generaal beklee.
Dié kommer het die Vryheidsfront Plus laat eis dat die provinsiale openingsrede uitgestel moet word.
“Die openingsrede is veronderstel om die rigting aan te dui vir provinsiale departemente vir die komende jaar. Die begrotings en jaarlikse prestasieplanne van departemente word deur die openingsrede toegelig, daarom is dit onaanvaarbaar dat die premier toegelaat word om die provinsiale rede te lewer,” het die Vryheidsfront in ’n verklaring gesê.
“Dit is onaanvaarbaar dat die ANC se binne-gevegte die Vrystaat lamlê en veroorsaak dat belangrike beplanning vir die jaar nie plaasvind nie,” sê die Vryheidsfront Plus.
Die feit dat die openingsrede beplan word om in Magashule se tuisdorp plaas te vind, is ‘n aanduiding dat die openingsrede se koste miljoene rand gaan beloop en dat dit eerder ‘n afskeidspartytjie gaan wees, sê Tammy Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer.
Die VF Plus het daarop ’n dringende skrywe aan die Speaker van die Vrystaatse wetgewer gerig om te eis dat die openingsrede uitgestel moet word en koste tot die uiterste beperk moet word.



